Eerste reën bring eerste weer-skade

Die eerste reënweer het tot vele padsluitings en skade in Stellenbosch gelei.


Die eerste reënweer het vandees-week oor die Eikestad uitgesak. Paaie is oorstroom en infrastruktuur het weggespoel.

Inwoners het teen 12:00 Dinsdag reeds gekla van oorstromings in hul buurte met sommige wat selfs skertsend aangebied het om branderplankrylesse in die oorstroomde strate aan te bied. Een inwoner het toe juis sy branderplank ingespan vir bietjie pret in die dorp.

Op die R304-pad, oorkant die hoofingang na Khayamandi, het die reën só hard geval dat ‘n gedeelte van die pad se skouer weggevoer is.

Dié besige pad en vele ander waar water opgedam het, is tydelik gesluit.

Motoriste moes plan maak om die kruising van die R44 en Tennantville, Birdstraat by Bellstraat en Ringweg te vermy nadat dit gesluit is. Oorstromings in Nkanini, naby die nywerheidsgebied, is ook aangemeld.

Stellenbosch se eerste burger, Jeremy Fasser, het Dinsdag gesê hy is dankbaar vir die werk wat munisipale beamptes doen om in wind en weer op te ruim.

“Ons is bewus dit [herstelwerk] sal tyd neem, maar die assesserings sal so gou as moontlik gebeur. Ons verwag vinnige herstelwerk omdat ons weet hoe belang-

rik hierdie pad vir motoriste is,” het Fasser oor die skade aan die R304 gesê.

Baie inwoners was glad nie beïndruk met die oorstromings nie en het gesê hulle wonder of die munisipaliteit vir ontwikkelings wat kom, reg beplan het.

“Aangesien nuwe huise en woonstelle steeds reg oor ons pragtige dorp gebou word, is daar ‘n kritieke kwessie wat oor die hoof gesien word – die dreineringstelsel.

“Die huidige pype is nie groot genoeg om die verhoogde volume afval en water te hanteer nie, wat kan lei tot ernstige probleme soos oorloop, oorstromings en [‘n tekort aan] rioolrugsteun.

“Indien die infrastruktuur nie die opgraderings kry wat dit nodig het nie, kan ons in die nabye toekoms omgewings- en gesondheidsrisiko’s in die gesig staar. Dit is tyd dat die munisipaliteit hierdie kwessie aanpak en die dreineringspype word groter gemaak om die groeiende bevolkingte akkommodeer,” was een inwoner se kommentaar op sosiale media oor die oorstromings.

In Smartietown, Cloetesville, het water soos ‘n fontein uit ‘n drein gestroom. Die nabye elektrisiteitsubstasie vir die buurt was byna heeltemal onderwater.

Volgens inwoners wat met Eikestadnuus gepraat het, is die oorstromings ‘n bekende gesig wat byna elke winter gebeur.

Lawrence Seals, verbonde aan die Stellenbosch Backyard Dwellers Forum, sê agterplaasbewoners is erg deur die weer getref met inwoners in wendyhuise wat moes bontstaan met emmers om hul wonings te probeer droog hou.

“Daar is mense wat jaar in en jaar uit deur dieselfde ding gaan,” verduidelik hy. “By een woning lyk dit asof ‘n kraan oopgemaak is. Die agterplaasbewoners vra nou vir ons seile en swartsakke wat ons nie het nie. Maar ons vra elke dag die munisipaliteit om na ons mense te kyk. Elke jaar vra ons dieselfde ding, maar dit word gesê ‘die raad moet besluit’.”

Eikestadnuus het na die Stellenbosch- munisipaliteit uitgereik vir kommentaar oor die skade wat veroorsaak is, planne vir herstelwerk asook deurlopende instandhoudingswerk van water-verwante infrastruktuur, maar het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.

Volgens die jongste konsepbegroting, waarop inwoners tans kommentaar kan lewer, sal die munisipaliteit oor die volgende drie jaar R322 miljoen aan water-verwante infrastruktuur bestee. Onder die planne vir die miljoene rande is om infrastruktuur op te gradeer in onder meer Stellenbosch, Idasvallei en Cloetesville.

‘n Nuwe reservoir kom in Vlottenburg en opgraderings sal by die afvalwaterverwerkingsaanleg in Klapmuts en Wemmershoek gedoen word.

Hoewel die reënweer ‘n kopseer vir inwoners en motoriste was, het die reën gehelp om die provinsie se damme se dalende watervlakke ‘n hupstoot te gee.

Damvlakke in die Kaapse metropool het die afgelope week van 59,6% na 58,3% afgeneem. Die Theewaterskloofdam was Maandag (7 April) 64% vol en Wemmershoek was 54,5% vol.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is die son vandag (Donderdag) en môre (Vrydag) weer terug, maar die koue weer kom weer die naweek. Die kwik sal na verwagting vandag tot 26 °C styg, maar sal Saterdag en Sondag in die lae twintigs wees.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.