Nóg ’n student van die Universiteit Stellenbosch (US) is vandeesweek dood nadat hy in die Proefplaas-dam, Noord Wal-Oos, verdrink het.
Die 19-jarige eerstejaarstudent, van die manskoshuis Dagbreek, is Maandagoggend (21 Oktober) gevind nadat hy die vorige dag gaan swem het. Volgens die Stellenbosch-polisie is die student se lyk om 09:05 gevind nadat hy vermoedelik reeds Sondag om 17:00 verdrink het.
Vandeesweek se verdrinking volg nadat twee mans in Januarie vanjaar ook in die berggebied bo Coetzenburg in Stellenbosch gesterf het.
Die Stellenbosch-polisie het Maandag bevestig ’n geregtelike doodsondersoek is in die jongste voorval geopen.
Die dam is glo ’n gewilde swemplek vir studente.
Mede-studente het hul medelye met die student se familie, vriende en die gemeenskap van Dagbreek uitgespreek.