Die reënweer help dalk om damme vol te kry, maar het ook vele kopsorge veroorsaak.
Die vol Eersterivier het werk aan Suidwalstraat en die rivierower langs Suidwalstraat vir eers gestop. Die gebied het skade opgedoen ná die oorstromings van Junie en September verlede jaar. Konstruksie was nog aan die gang, en hoewel swaar reën tydelike strukture beskadig het, het die wal verhoed dat die pad verdere skade opdoen, het Stellenbosch-munisipaliteit se woordvoerder Stuart Grobbelaar bevestig.
’n Graafmasjien, wat aan ’n private kontrakteur behoort, is egter beskadig, maar niemand is beseer nie. “Die graafmasjien is die volgende dag uit die rivier gehaal en word tans gediens. Hierdie projek behoort binne die volgende vier maande afgehandel te wees,” sê Grobbelaar.
Werk wat verlede jaar ná Junie en September se vloedskade aan die rivieroewer langs die Ou Landbousaal veroorsaak is, het gehelp om dié saal nou teen die gure weer te beskerm.
“Die munisipaliteit het onmiddellik gereageer deur uitgebreide studies te voltooi en ’n bekwame kontrakteur aan te stel om die oewer en die fondasies van die gebou te versterk en vloedbeheermaatreëls in te stel.
“Die herstelwerk is grotendeels net voor die onlangse reën afgehandel. Ondanks die groot hoeveelheid reën wat reeds geval het, is minimale skade aangemeld.
“Dit dui daarop dat die herstel- en versterkingswerk ’n reusesukses was,” sê Grobbelaar.
Dié projek sal na verwagting binne die volgende maand afgehandel word.
Vloedbeheermaatreëls om huise sowel eiendomme in buurte langs die Eersterivier te beskerm, blyk ook goed te werk, sê Grobbelaar.