Jannie Durand (uitvoerende hoof van Remgro Beperk) en die Stellenbosch-burgemeester, Gesie van Deventer, open die splinternuwe voetgangerbrug oor die Eersterivier en ’n netwerk voetpaadjies tydens ’n lintknipseremonie wat Woensdag (2 November) plaasgevind het.


’n Splinternuwe voetgangerbrug oor die Eersterivier en ’n netwerk voetpaadjies is Woensdag (2 November) amptelik tydens ’n lintknipseremonie deur Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro Beperk, en Gesie van Deventer, die Stellenbosch-burgemeester, geopen.

Die brug en voetpaadjies is deur Remgro gebou en aan die Stellenbosch-munisipaliteit en die publiek oorgedra.

Die paadjies verbind Stellentialaan (ingang langs die Rupert-museum) met Aan-de-Wagenweg (by De Volkskombuis).

Durand sê dit is ’n voorreg om deel van die voortgesette ontwikkeling en verbetering van Stellenbosch te kan wees. “Ons is trotse lede van die Stellenbosch-gemeenskap en sien daarna uit om deel te wees van verskeie planne om in die breë gemeenskap te belê.”

Van Deventer het die nuwe voetgangerbrug en voetpaadjies as ’n reuse bate vir die gemeenskap beskryf. “As ’n munisipaliteit werk ons graag saam met vennote soos Remgro, wat ’n bydrae tot ons dorp se ontwikkeling en verbetering lewer. Die voetpaadjies skep pragtige alternatiewe roetes vir inwoners en toeriste wat ons dorp besoek. Klim op ’n fiets of trek stapskoene aan en kom verken die pragtige voetpaadjies! Ons bedank Remgro vir hul bydrae om ons dorp te verbeter en mooi te maak.”

Remgro het in 2016 met die Eersterivier-rehabilitasie-projek begin, wat die voetgangerbrug asook fase 1 van die voetpaadjie-projek as deel van die groter Remgro-eiendomsmeesterplan insluit. Die plan is in 2013 opgestel om die Onderkant-Dorpstraat-omgewing in ’n veelvoudige ontwikkeling en gesogte sakesektor om te skep. Dit het terselfdertyd ook die omgewing vir die groter Stellenbosch-gemeenskap verbeter.

Die brug en voetpaadjies vir vervoer sonder gemotoriseerde aandrywing (NGV) is die eerste deel van die eiendomsmeesterplan. ’n Besondere kenmerk is dat dit ’n veilige voetganger- en NGV-roete oor die Eersterivier van Stellentialaan af en onder die R44 deur na Aan-de-Wagenweg skep. Die roete, wat beligting en kringtelevisiekameras insluit, sal deur die munisipaliteit gemonitor word. Die voetpaadjies skep alternatiewe roetes vir werkers, skoolleerders, ander voetgangers, drawwers, fietsryers en toeriste tussen die Stellenbosch-stasie, Die Boord, Onder-Papegaaiberg en die universiteit/Coetzenburg.

Die rehabilitasie-veldtog van die rivier loop hand-aan-hand met die oprigting van die brug en voetpaadjies, en sluit die verwydering van uitheemse plantegroei en die plant van geskikte inheemse plante in.

Die rivieroewer word ook gerehabiliteer vir vloedbeheer en stabilisasie. ’n Instandhoudingsooreenkoms is met die munisipaliteit gesluit, waarvolgens Remgro die instandhouding van die rivierwalle tot einde 2023 sal doen.

Fase 2 van die voetpaadjie-projek, wat onderhewig is aan ’n openbaredeelname-en-wysigingsproses, strek van Aan-de-Wagenweg tot by die Krigestraat-houtbrug. Dit sal ’n veilige alternatiewe roete vir leerders van die omliggende skole skep.

Die volgende Aan-de Wagenweg-projekte is deel van die Remgro-eiendomsmeesterplan en is reeds voltooi: Die herlewing en restourasie van die De Volkskombuis-restaurant, die Aan-de-Wagenweg-draaisirkel en die Southern Sun- De Wagen-hotel, wat sy deure in 2021 geopen het.

Die verbreding van Onderkant-Dorpstraat (tussen die R44 en Adam Tasweg) word beplan om verkeersdruk in Onderkant-Dorpstraat te verlig. ’n Erfenisimpakstudie en openbaredeelnameproses vir die projek is reeds afgehandel.

Remgro neem ook deel aan die Adam Tas-korridor-projek om die groter Stellenbosch te bevoordeel.

You need to be Logged In to leave a comment.