Dis tog jammer dat die tafels en stoele (en seker die uitstallings ook) op die sypaadjies in die middedorp, nou party mense pla.

Dis ook jammer dat ons nie weet wat die klagtes is nie en dat die res van Stellenbosch nie eers deur die munisipaliteit geken is voordat hulle ’n optrede geloods het nie. Ons sit hier met ’n unieke opset wat tot voordeel van die hele Stellenbosch en omgewing is en nou wil ons dit verongeluk. Het die klaers dit in ag geneem? Die grootste gedeelte van hierdie area bestaan uit toeristeattraksies en omtrent al die mense wat die area besoek, doen dit juis om die unieke karakter en atmosfeer te gaan geniet? Dit lok ook derduisende toeriste wat dan hulle geld in die groter Stellenbosch kom spandeer en dit is mos tot voordeel van ons almal. Verder verskaf die area ook noodsaaklike werksgeleenthede aan talle studente en ander inwoners.

Ek tel op dat toeganklikheid vir rystoele dalk een van die probleme is. Wel, ek is bevrees dat die verwydering van die tafels en stoele van die sypaadjies af, nie die probleem gaan oplos nie. Gaan kyk gerus self hoe onbegaanbaar die grootste gedeelte van die betrokke sypaadjies in elk geval vir rystoele is. Kom ons maak dus liewers ander planne om die rystoelprobleem op te los soos byvoorbeeld om Kerkstraat te sluit soos “Sonder wiele” voorgestel het. So sal ons die area in elk geval ook vir ander mense meer gebruikersvriendelik maak en mag dit dalk tot ’n verder toename in besoekers lei.

Ek is seker die meeste Stellenbossers besef ook watter groot aanwins hierdie klein gedeelte van die middedorp vir die groter Stellenbosch is en ek wil hulle aanmoedig om asseblief ook hulle stemme te laat hoor voordat ons hier die verkeerde ding doen. Vir die munisipaliteit wil ek mooi vra om intussen asseblief nie te haastig en te drasties op te tree nie, maar dat hulle liewers as fasiliteerder sal optree sodat ons oplossings kan vind sonder om hierdie unieke deel van Stellenbosch se karakter tot niet te maak tot nadeel van ons almal.

Mike Reyneke,

Stellenbosch

You need to be Logged In to leave a comment.