Respek, onvoorwaardelike liefde en harde werk is wat ’n egpaar van Stellenbosch se huwelik vir 50 jaar staande gehou het.
Donald (74) en Magda (72) Paul, inwoners van Geluksoord, ’n tehuis vir verswakte bejaardes, het Vrydag 7 Julie hul 50ste huweliksherdenking gevier.
Hulle het op 10 Desember 1971 ontmoet en vier tot vandag toe nog die dag.
“Ek het as ’n jong student by my suster se werk gaan vakansiewerk soek. Dit was Kersfeestyd en ek het in ’n kantoor met baie tiksters gesit en ek het gevra wie het ’n man wat my na die Kerspartytjie toe kan vergesel. Een vrou het toe vir my gesê sy sal haar seun vra en wys toe vir my die volgende dag – en ons besluit toe dat ons saam gaan. Dit het alles met ’n blind date begin en was liefde met die eerste oogopslag,” vertel Magda.
Gevra oor hul gunsteling-herinnering saam sê die egpaar hartstogtelik die geboorte van hul tweelingdogters. “Dit was ’n groot gebeurtenis, want ons het hulle nie verwag nie. Dit het ’n groot indruk op ons gemaak en hulle het oor die jare vir ons baie vreugde verskaf.”
Die tweeling se geboorte was ’n verrassing, want die dokter wat na Magda gekyk het, het nie besef daar is twee babas nie. Hulle het op die dag van ons geboorte uitgevind dat hulle twee dogtertjies gaan grootmaak, en nie net een nie.
“Hulle was piepklein. Die een het bietjie oor 2 kg geweeg, en die ander een was onder 2 kg,” onthou hulle.
Die paartjie sê hul resep vir ’n lang en gelukkige huwelik is om mekaar onvoorwaardelik lief te hê, mekaar te respekteer en altyd te ondersteun. “Respekteer mekaar en gee mekaar ruimte, moenie jaloers wees nie en ondersteun mekaar altyd.”
Die egpaar se gesondheid het oor die jare agteruitgegaan. Magda leef al 21 jaar met Parkinson se siekte, en Donald het in April ’n beroerte gehad. Maar deur dit alles het hulle mekaar bygestaan en deur elke tydperk ondersteun.
“Daar sal altyd moeilike tye in ’n huwelik wees, maar wees bedag daarop om nie mekaar seer te maak nie. Respekteer mekaar en praat met mekaar tot die moeilikhede verby is. En probeer altyd aan jou huwelik werk. Die huwelik is ’n werk, jy moet daaraan werk en kan nie net sit en ontvang nie,” voeg Donald by.
Die familie bedank die Vriende van Geluksoord vir hul bydrae met die viering van hierdie spesiale mylpaal en vir bystand met reëlings.