’n Plaaslike digter het onlangs haar eerste digbundel getiteld Verse van ’n Plaaskind bekend gestel en hoop om binnekort nog gedigte asook kortverhale te publiseer.
Joanita Richter van Idasvallei se eerste boek is deur Malherbe Uitgewers gepubliseer.
“My digbundel handel oor baie dinge, die pandemie, liefde, kindermishandeling en baie meer,” voeg sy by.
Richter sê die samestelling van die bundel het ’n paar maande geneem, maar sy skryf al sedert sy in gr. 6 was. “Ek het ’n paar maande gewerk aan die boek,maar ek het eers in 2021 besluit dis tyd om te publiseer. Ek het in graad 6 my eerste gedig geskryf getiteld ‘Lente’. Dis ook in die bundel.”
“Ek is gebore in Stellenbosch. Ons het op ’n klein plasie gewoon, genaamd WedgeFarm. Daardie tyd was daar nie eintlik kinders op die plaas nie. Dit was net ek en my boetie. Die plaaseienaar was baie mal oor ons.”
Sy vertel dat sy by Idasvallei Primêr skoolgegaan het. “Selfs nadat ons later verhuis het na Eersterivier het ek per trein elke dag met my oupa gereis tot in Stellenbosch om by die skool uit te kom.
“Die opsigter sou dan smiddae saam met my sit en wag tot my oupa my kom haal het by die skoolhek.”
Dié opgeleide maatskaplike werker het haar studie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en ook by Stellsorg betrokke geraak vanweë haar voorliefde vir die dorp.
“Skryf was maar altyd ’n passie en is nog steeds. Ek het maar altyd geskryf om my familie en vriende beter te laat voel.
“Ek het ook altyd gehelp met vriende wat toesprake moes voorberei.
“Ek het in hartseer en goeie tye gesien hoeveel woorde vir mense kan beteken en net om ’n klein verskil te kon maak is al wat nog altyd saak gemaak het.
“Dit gaan nie oor geld of roem vir my nie, dit gaan daaroor om êrens ’n verskil te kan maak in iemand se lewe, so dit is hoekom ek skryf.
“Ek dra die boek op aan almal wat ’n impak op my lewe gehad het, ek wil niemand uitsonder nie, want daar is te veel om by die naam te noem.”
Van haar gedigte is ook in ander gesamentlike bundels: Liefde seisoen; Reis deur 2020 en Genade onbeskryflik groot.