Stellenbosch word die Stad van Eike, oftewel die Eikestad, genoem. Die naam is gepas, want hier is baie van hulle met ’n lang tradisie.
Toe Simon van der Stel as die Goewerneur van die Kaapkolonie in 1679 die nuwe dorpie aan die oewers van die eerste rivier gestig het, was daar min bome te sien, want ’n kenmerk van die Kaapse fynbos- plantegroei is die skaarsheid aan bome. Hier en daar was daar miskien ’n olienhoutboom of ’n sandolien, maar hulle is nie juis geskik vir meubels of selfs brandhout nie.
Van der Stel het belang gestel in plante en hy en die hoëkommissaris, Hendrik Adriaan van Rheede vir Drakenstein, het die burgers aangeraai om “vaderlandts houwt” te plant. Hulle was goed bekend met die goeie eienskappe van eikehout in Europa, veral ook vir die maak van wynvate, en gevolglik is groot getalle eikebome (ook akkerbome genoem) in en om die nuwe dorpie geplant. Vandag weet ons dat die Europese of Engelse eik (Quercus robur) nie ’n goeie keuse was wanneer dit om meubelhout gaan nie, want die hout is te sag, waarskynlik omdat die bome weens die warmer klimaat hier te vinnig groei. Hulle is ook baie kwesbaar vir meeldou, ’n swam wat op die blare groei, en stamsiektes. Gevolglik lyk die ouer bome maar taamlik gehawend en verkies die munisipaliteit nou ander, meer bestande eikesoorte om die Europese eik mee te vervang.
Een van die ou Europese eike wat baie goed gehou het, is die reuseboom wat op die sypaadjie voor Van Ryneveldstraat 3 staan, bekend as die Ryneveld-eik. Hierdie boom is in 1812 geplant en is een van vyf bome wat daardie tyd in Van Ryneveldstraat geplant is en wat vroeëre brande in die dorp oorleef het. Dit is tot kampioenboom verklaar ingevolge die Nasionale Boswet van 1998.
Nog twee kampioeneike in die Stellenbosch omgewing staan by Bonniemile en Akkerdraai op die Annandalepad.
’n Besonder groot voorbeeld van die Algeriese eik (Quercus canariensis) is in die Botaniese Tuin van die Universiteit Stellenbosch te sien.
’n Verskynsel waarmee die inwoners van Stellenbosch goed bekend is, is die taai druppels wat op die motor se voorruit verskyn as jy in die herfs onder eikebome deurry. Dis die sogenaamde heuningdou wat deur die eikeplantluis afgeskei word. Waarom net in die herfs? Omdat die getalle van die plantluise in die herfs geweldig toeneem, waarskynlik omdat die voedingstowwe in die afbrekende blare meer toeganklik word of omdat nadelige stowwe in die blare verminder.