Die eerste span van die Van der Stel-krieketklub bevind hom boaan die punteleer van die Premierliga van Krieket Boland ná ’n oortuigende oorwinning oor die Robertson-krieketklub die afgelope naweek.
Die spanne het Saterdag (7 Desember) in ’n 50-boulbeurtwedstryd op die Bergsig-krieketveld kragte gemeet, met die tuisspan wat ’n 150-lopie-sege behaal het. Robertson het die loot gewen en Van der Stel ingestuur om te kolf in ’n wedstryd wat weens ’n nat veld tot 38 boulbeurte verkort is.
Die Stellenbossers het hul kolfbeurt doelgerig benader en 251/1 in hul 38 boulbeurte aangeteken danksy uitstekende kolfwerk deur die openingskolwers Werner Brand (153; 13×4, 9×6) en Ruben de Bruin (61; 4×4). Net Leolin Davids (1/58) kon ’n paaltjie vir die span van die Langeberg laat kantel.
Die Van der Stel-boulers was in ’n vernietigende bui en het die Robertson-kolflys afgemaai deur hulle vir net 101 lopies in 29 boulbeurte uit te haal. Dit was veral Wynand Smit (4/24), Rayyaan Rhode (3/26) en JJ Lambrechts (2/17) wat uitstaande boulvertonings opgelewer het.
. Intussen het die eerste span van die Stellenbosch-krieketklub homself ook aan die wenkant bevind toe hy Saterdag ’n drie-paaltjie-oorwinning oor die Paarl Oos-krieketklub in New Orleans behaal het.
Die besoekers het die loot gewen en eerste geboul, met die tuisspan wat 187/10 in 46.4 boulbeurte behaal het. Jevondré Jacobs (49; 3×4), Fernito Mehl (36; 2×4) en Jevano Baron (27; 3×4, 1×6) was die top-lopiemakers vir Paarl Oos, terwyl Alveano Carolus (3/29), Christian Williams (2/30), Curt Oliver (2/42) en Bradley Jephtas (2/50) almal in die bouldepartement vir Stellenbosch handjie bygesit het.
Op hul beurt het die besoekers se kolwers op ’n kliniese manier die teiken benader en uiteindelik, met die telling op 188/7, in die 48ste boulbeurt die lyn oorgesteek. Morné de Vries (77; 4×4, 1×6) het van voor af met die kolf gelei en is goed deur Peter Cyster (25*; 1×4) ondersteun.
. Saterdag was die eerste span van die Coronations-krieketklub ook in aksie toe hy in ’n ligawedstryd teen die Wellington-krieketklub by die Pen Basson-ovaal te staan gekom het. Die wedstryd is ook weens ’n nat veld na 25 boulbeurte verkort.
Wellington het die loot gewen, besluit om eerste te kolf en 222/6 in sy 25 boulbeurte aangeteken. Junaid Cassiem (87*; 6×4, 3×6), Moshin Khan (38; 1×4), Jacques Marais (34; 1×4), 4×6) en Steven Abrahams (25; 1×4) was die tuisspan se top-lopiemakers, terwyl Curtly Klaasen (2/33) en Keanu Williams (2/29) hul bes probeer het om Wellington te stuit.
Op hul beurt het Chad Ayford (81; 5×4, 5×6) en Zemile Adams (51; 2×4, 3×6) vir die Pniëllers op koers gehou, maar hul pogings was verbete, met die telling wat ná 25 boulbeurte op 183/8 gestaan het en die besoekers wat met ’n tekort van 39 lopies die knie moes buig.
Beon Swanepoel (3/27) en Roché du Plooy (2/40) was Wellington se beste boulers.
. Alle Krieket Boland-ligaverpligtinge word nou vir die feestyd gestaak, met spanne wat Saterdag 11 Januarie 2025 weer in aksie is. Al die spanne van die Stellenbosch-streek is dan weer terug op die veld. Maties hervat sy seisoen met ’n wegwedstryd teen Robertson; Van der Stel speel gasheer vir Coronations; Stellenbosch verwelkom Worcester United; en Victoriane takel Young Peoples by die Tassies-ovaal.