Oor die naweek van Saterdag 9 en Sondag 10 November, is die Suid-Afrikaanse Enkelkano-kampioenskap by Upington tydens die Orange Descent beslis.
Die tweedaagse wedvaart is op die Oranjerivier gehou en het vir verskeie uitdagings gesorg, met groot stroomversnellings en tegnies moeilike dele van die rivier wat die kanovaarders moes trotseer.
Plaaslike roeiers van die Stellenbosch-kanoklub het hier uitgeblink en met heelwat nasionale titels teruggekeer.
Luka Koumantarakis het die SA K1 o.23-titel gewen, Lodewyk Rabie die SA K1 vir 70 jaar of ouer en Johan van Rooyen die SA titel vir roeiers ouer as 75.
Silwermedaljes is ook deur Gerhard Beukes (GGM-klas, 65 jaar en ouer) en Johan Serdyn vir roeiers 70 jaar en ouer gewen. Hoewel Francois Meyer nie ’n nasionale medalje verower het nie, kan hy spog met die algeheel 22ste plek vir die wedvaart.
Dag een het by Die Punt-oord in Keimoes begin. Roeiers moes 23 km stroomaf na Die Mas-oord in Kakamas roei. Dag twee het by Sakkie se Arkie in Upington begin en ná 27 km was die eindstreep in Oranje Rus, Kanoneiland.
Rabie, ’n bekende in Stellenbosch, het verskeie jare as Springbokatleet groot naam gemaak in middel- en langafstand-atletiek. Hy meen die Orange Descent is ’n besondere wedvaart en dat hy enigeen sal aanbeveel om dit aan te pak. Nie net is die rivier tegnies uitdagend nie, maar die natuurskoon is asemrowend. “Dis min dat jy visarende so vry in die natuur sien en die water is so skoon dat jy die visse onder jou kan sien swem,” vertel hy.
Rabie noem ook dat dit ’n besondere belewenis is om deur die Neus-keerdam te roei.
Die hele rivier vernou na ’n 5 m-wye skeur in die rotsformasie. By die stroomversnellings moes roeiers kophou om kop bo water te hou en rotse te vermy wat soms net onder die oppervlak is. Stellenbosch kan trots wees op sy kanovaarders se prestasies.