Drie plaaslike maatskaplike organisasies het verlede Woensdag (28 Augustus) weer saamgewerk om plaaslike vroue ter viering van Vrouemaand te bederf.
Die spanne van die Stellenbosch-nagskuiling, ABBA-Stellenbosch en die Safe House het vroue vanuit die gemeenskap genooi om ’n oggend van bederf te hê.Danksy skenkings van hul vennote kon die organiseerders smullekker disse, bederfpakkies en ’n tikkie bemoediging vir die vroue voorsit.
Benewens die bederfies is ’n kers ter nagedagtenis aan die belangrike vroue in hul lewens aangesteek, vrouwees gevier en die uitdagings wat vroue daagliks moet deurmaak, is bespreek.
Arshlar Nkuna, ’n prokureur van Legal Aid, het vertel wat die verskeie dienste is wat dié organisasie bied. Hulp met hofverrigtinge, die opstel of teken van ’n kontrak en regshulp is deel van waarmee Nkuna en haar kollegas help.
Die digter en motiveringspreker Wilma Josef het op haar beurt haar lewensverhaal gedeel en bemoediging aan die vroue by die geleentheid gebied. Josef, van Simondium, het vele geliefdes oor die jare verloor, met die jongste die dood van haar man.
Sy meen ten spyte van al die uitdagings wat sy, soos die vroue by die geleentheid, moes deurgaan, is daar altyd hoop.
“Miskien voel jy vandag jy is ’n mislukking, maar jy is nie. Indien die mense vir jou wil sê wie jy is, dat jy die foute van jou verlede is – jy is nie. Indien jy vir ’n nuwe dag gespaar is, het jy ’n nuwe kans om jou lewe te verander,” verduidelik sy.
’n Manier vir Josef om die uitdagings te hanteer, was om poësie te skryf. Sy het al byna 100 gedigte geskryf en gebruik digkuns om hoop aan ander vroue te bied. Sy het haar jongste gedig “Dynamic Woman” voorgelees en die vroue aangespoor om hulself as koninklikes te sien.
Die organiseerders bedank almal wat bygedra het om die dag ’n sukses te maak.