Opwindende hoogtepunte is bereik by die 33ste Veritas-toekennings, gekenmerk deur nog ’n rekordaantal medaljes vir bekende handelsmerke en nuwelinge. Die gesogte Duimpie Bayly Vertex-trofee vir die beste wyn is aan die 2019 Benguela Cove Joie de Vivre Cap Classique toegeken.
Die spoggerige galadinee het teruggekeer na die KIKS, waar gaste ’n onvergeetlike aand geniet het. Ses lewende legendes het ererolle vir hul diens aan die bedryf ontvang.
KWV het ook die kalklig by die Veritas-funksie gesteel met ses dubbelgoud-wyne en is as die beste produsent aangewys. Hy is gevolg deur die puik prestasies van Heineken Beverages en Wellington Wyne, kort op sy hakke met vier dubbelgoud elk. Heineken Beverages het die louere onder brandewyne ingeoes, met vier dubbelgoud, insluitend Van Ryn’s se twee dubbelgoud.
Vier wynmakerye het ook uitgeblink met drie dubbelgoud elk, naamlik Alvi’s Drift Private Cellar, Benguela Cove, Diemersdal en Spier, terwyl ses kelders elk twee dubbelgoud gewen het.
Die uitslae is onder dawerende applous by die galadinee ontvang, waar altesaam 81 dubbelgoud en 179 goud oorhandig is.
Die Veritas-tradisie sedert 2009 om bedryfsleiers te vereer, is vanjaar voortgesit. Hierdeur het ses voorste persoonlikhede die 2023- Lewende Legende Ererol vir hul toewyding tot en geesdrif vir die plaaslike wyn- en brandewyn-bedrywe ontvang. Hulle is Gary Baumgarten, Gert Boerssen, Johan Ehlers, Chris Roux, Jacques Roux en Johan Wiese.
Vanjaar se 1 247 inskrywings is deur ’n gesaghebbende paneel van 70 internasionale en plaaslike beoordelaars in vyf dae se blindeproesessies geëvalueer. Die beoordelaarspanele het uit vyf lede elk bestaan. Die internasionale beoordelaars was Christine Austin (VK), Jonas Röjerman MW (Swede), Joe Wadsack (VK) en Jo Wessels (Duitsland).
Goeie nuus vir verbruikers is dat die openbare wynproeë, wat onder die Deloitte-vaandel aangebied word, weer in die hoofsentra gehou sal word. Die openbare proeë word Vrydag 27 Oktober in op die Deloitte-perseel in Kaapstad gehou.
. Besoek www.veritas.co.za vir nog inligting.
Die Stellenbosch-kelders wat goed gevaar het:
. Spier – drie dubbelgoud (vyf goud): Spier 21 Gables Chenin Blanc 2021; Spier Seaward Chenin Blanc 2022; en Spier Creative Block 5 2020;
. Stellenbosch Vineyards – twee dubbelgoud;
. Tokara Wines – twee dubbelgoud; en
. Die 2021 Stellenbosch 1679 Single Vineyard Old Vine Pinotage van Koelenhof het ook ’n dubbelgoud in die klas vir gesertifiseerde erfeniswingerdwyne gewen.