Eikestadnuus was onder die crème de la crème van Suid-Afrika se gemeenskapspers by die vierde jaarlikse Avbob- FCJ Excellence Awards-galadinee wat Vrydag (22 Augustus) by die Protea-hotel Stellenbosch in Technopark gehou is.
Die prysuitdeling, aangebied deur die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FGJ) in vennootskap met die titelborg Avbob, het erkenning gegee aan werk wat in 2024 gepubliseer is.
Altesaam 541 inskrywings is ontvang, met deelnemers wat hul voorbeeldige werk in verskeie afdelings ten toon gestel het, met voorblaaie en agterblaaie, gratis koerant van die jaar, harde nuus en boeiende menslike verslaggewing wat die inskrywings oorheers het.
Die beoordelaarspaneel was ‘n groep ervare bedryfsprofessionele mense en die beoordelingsproses is deur dr. André Gouws van Akademia oorsien.
Eikestadnuus is aangewys as die derde beste gratis gemeenskapskoerant in Suid-Afrika – ‘n gesogte eer vir dié titel, wat sedert 1953 nuus aan die groter Stellenbosch-gebied lewer. Sandton Chronicle het die eerbewys as die gratis koerant van die jaar gewen, terwyl Northcliff Melville Times in die tweede plek was.
Tasmin Cupido, redaksionele uitgewer van Eikestadnuus, het gesê: “Ons is verheug en geëerd om onder die drie beste gratis koerante in die land erken te word. Hierdie erkenning is ‘n bewys van ons span se toewyding om gehaltejoernalistiek te lewer wat werklik ons gemeenskappe dien.
“Elke storie wat ons publiseer, weerspieël ons verbintenis om ons lesers en adverteerders in te lig, te betrek en met hulle te skakel. Terwyl ons hierdie prestasie vier, motiveer dit ons ook om voort te gaan om in alles wat ons elke week doen, na uitnemendheid te streef.”



Eikestadnuus was ook ‘n finalis in die agterblaaie-afdeling en het uiteindelik die sesde plek behaal. Die afdeling is deur Suid-Kaap Forum gewen, met Vaalweekblad wat tweede geëindig het en Zululand Observer wat die topdrie afgerond het.
Verskeie ander titels en joernaliste van die Novus Community Media-stal het ook onder die top- 10 van die verskillende koerant-, fotografie- en skryf-afdelings geëindig, met sommige wat die topdrie in van die afdelings gehaal het. Die uitstaande omgangstaal-skryfwerk van Unathi Obese van City Vision het verseker dat hy as die wenner van die omgangstaal-skryfwerk-afdeling weggestap het, terwyl Samantha Lee-Jacobs van People’s Post derde in die hardenuus-skryfafdeling geëindig het.
In die afdeling selfoonfotografie, ‘n nuwe afdeling vir die 2024-weergawe van die toekennings, was Alida Buckle van Weslander tweede, terwyl Lee-Jacobs derde geëindig het.



You must be logged in to post a comment.