Eikestadse aktrise oor haar lewe in Hollywood

Hoewel Anna Greene haar deesdae in Hollywood bevind, verlang haar hart gereeld na haar tuisland, maar met groot planne om Suid-Afrikaanse stories te vertel, kry sy dalk die beste van albei wêrelde.


Hoewel Anna Greene haar deesdae in Hollywood bevind, verlang haar hart gereeld na haar tuisland, maar met groot planne om Suid-Afrikaanse stories te vertel, kry sy dalk die beste van albei wêrelde.

Greene (25), oftewel Grobbelaar soos haar identiteitsdokument wys, is ná hoërskool in 2018 reguit na Hollywood om haar drome om ’n aktrise te wees, na te streef. Nou, tydens ’n vinnige twee-weke-besoek aan haar tuisdorp, het sy haar jongste fliek, The Vindicator, die afgelope Sondag (2 Junie) by die Universiteit Stellenbosch (US) se Neelsie bekendgestel.

“Dit word dalk as ’n rillerfliek beskou, maar ek sien dit meer as ’n sielkundige riller. Dit was die grootste pret om die fliek vir twee weke op ’n perdeplaas in die Arizona-woestyn te skiet. Ek het onmiddellik verlief geraak op die draaiboek en omdat dit die eerste keer is dat ek só ’n rol aangepak het, het ek niks teruggehou nie,” verduidelik sy.

Greene sê sy is meer aangetrokke tot dramas en hoewel sy nie baie bangmaak-flieks gekyk het nie, het The Vindicator haar laat besef sy wil gewis ’n scream queen word.

Greene bieg egter haar lewe in Amerika is nie net liggies en loket-treffers nie. Wanneer sy nie besig is met ’n projek nie, werk sy by ’n koffiewinkel in El Segundo, waar sy gereeld Suid-Afrikaners ontmoet.

“Sodra jy iemand ontmoet wat ook van hier is, vorm jy onmiddellik ’n band met daardie persoon. Daar is ’n Facebook-groep van Suid-Afrikaners in Hollywood – dit het meer as 60 000 lede,” sê sy.

’n Dik vel en harde werk is deel van Greene se sleutel tot sukses. Om agter die skerms te werk, bied ook baie geleenthede en Greene het reeds help skryf aan ’n draaiboek en was ook vervaardiger vir verskeie projekte. Dit was aanvanklik een van haar lektore van die American Academy of Dramatic Arts wat die saadjie geplant het om vervaardiger te word.

Greene is nie net ’n kunstenaar nie, maar ook ’n kyker. Uitstaan-televisiereekse en flieks waarna sy keer op keer terugkeer, is die oorlog-reeks Band of Brothers enStuart: A Life Backwards met haar gunstelingakteur Tom Hardy.

Ten spyte van haar klein gestalte, of dalk juis omdat Greene so fyn is, is haar droomrol ’n aksierol soos Laura Croft. Nog ’n rol op haar loopbaan-lysie is om ’n historiese persoon speel. “Ek geniet die navorsing wat in so ’n projek gaan. Op die ou einde gaan dit altyd oor die storie. Wanneer ’n storie tot my spreek en my intrek om in te leef, is dit wat my uiteindelik na ’n rol trek.”

Greene het ’n nuwe projek wat juis tot haar liefde vir aksie en fisieke rolle spreek. Vir Alleen is sy ook beide vervaardiger en aktrise. Alleen gaan oor Willemien wat op ’n plaas woon en haar man gaan in die Boereoorlog veg en sy bly vrou-alleen op die plaas agter. ’n Paar Britse soldate daag dan op en Willemien moet die huis verdedig.

Greene sal die hoofrol vertolk en werk saam met haar kêrel en mede-vervaardiger agter die skerms.

“Ek wou nog altyd ’n historiese projek doen en die feit dat hierdie ook ’n eg Suid-Afrikaanse storie is, maak my nog meer opgewonde. Ons het ’n jaar om te beplan, en daar is baie om te beplan, maar ek kan nie wag nie.”

Die hoogtepunte van Greene se rol in The Vindicator is terug vir dié projek met aksietonele en spanning wat volop in hierdie draaiboek is. Indien alles soos plan verloop, begin die span volgende September in Beaufort-Wes skiet.

Greene sê sy is opgewonde oor die potensiaal wat Suid-Afrika het wat die filmbedryf betref. “Almal is moeg vir reboots en hervervaardigings. Daar is so baie diverse stories wat vertel kan word, wat tot mense spreek en hulle sal bybly. Daar is nie noodwendig ’n groot mark vir vervaardiging hier nie, maar die natuurskoon en die mense kan bydra tot ’n wonderlik plaaslike filmbedryf.”

Greene sê sy hoop Alleen sal op ’n manier bydra tot die opheffing en uitbreiding van die Suid-Afrikaanse bedryf. Tot dan geniet sy haar tyd in haar ouerhuis, goeie gehalte eetgoed en die viering van haar verjaarsdag.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.