Die Hoërskool Stellenbosch (HS) se rasieleiers het onlangs gehop, gesweef en gespring vir podiumplekke in die Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskap vir rasieleiers.
Die kompetisie het in die eerste naweek van die September-skoolvakansie plaasgevind.
Dit is Saterdag 21 en Sondag 22 September op die Universiteit van Kaapstad se rugbyvelde beslis en laerskole, hoërskole en tersiêre spanne van oor die land heen het deelgeneem.
“Daar is ’n hele span wat op jou staatmaak om elke keer 100% te gee. Almal is bitter hardwerkend en ons hou mekaar verantwoordelik vir dit waartoe ons ingestem het,” het die HS se spankaptein, Elmarie Grobbelaar, verduidelik.
HS se rasieleiers het uitstekend presteer en in die top-drie van al vyf hul afdelings geëindig. Die plaaslike rasieleiers se “All girl large”- en “performance”-spanne het ’n derde plek verower, en die “co-ed small”-span het silwer behaal, terwyl die “All girl small”- en “Pom duo”-spanne eerste plekke landswyd behaal het.
Kayli Janse van Rensburg, een van die “flyers” in die span, meen die spanne se voorbereiding het vrugte afgewerp. “Ons het baie tyd saam deurgebring en baie hard geoefen. Dit is moeilik om elke keer weer op te staan nadat jy geval het en weer te probeer totdat jy dit regkry, maar dit maak die uiteinde soveel meer bevredigend,” sê Kayli.
Die HS het in 2018 een van die eerste skole in die Wes-Kaap geword wat mededingend aan “cheerleading” begin deelneem het.
Sedert die sport by die skool aangebied is, het die spanne baie in dié kort tydperk ontwikkel.
Bekker Strydom, ’n gr. 9-leerder, het vanjaar as rasieleier begin. Hy meen dié sport is soos geen ander sport nie. Bekker erken dit is moeilik, maar “regtigwaar lekker”.
Dit is te danke aan die toewyding van die afrigters, Lisa Parrock en Jeanina van der Westhuizen, asook die harde werk en dissipline van die span, dat hulle so goed kon presteer.
Die nasionale kampioenskap is egter nie al wat die rasieleiers hierdie jaar aangepak het nie. Vyftien van die HS-rasieleiers het vroeër vanjaar hul Westelike Provinsie-kleure verwerf en nege van die skool se rasieleiers het die Suid-Afrikaanse span gehaal wat volgende jaar aan die wêreldkampioenskap in Florida in die VSA sal deelneem.
Die skool meen sy rasieleiers is ’n span om dop te hou, want hulle is onder die beste in die land in ’n vinnig groeiende sport.