Einde van slawerny in Pniël gedenk

Die vrystelling van die slawe op 1 Desember 1834 is die afgelope naweek gevier. Anne-Mari Lackay en Janine Myburgh deel hul indrukke oor die vieringe.


Die vrystelling van die slawe op 1 Desember 1834 is die afgelope naweek gevier. Anne-Mari Lackay en Janine Myburgh deel hul indrukke oor die vieringe.

Dis Donderdag 1 Desember en Pniël, die dorpie tussen Stellenbosch en Franschhoek, is vroeg wakker. Op hierdie dag in 1834 is slawerny in die Kaapkolonie afgeskaf – vier maande nadat die Vryheid van Slawe in die Britse Parlement aangekondig is.

Pniël is ’n dorp met inwoners wat afstammelinge van slawe is. Dit is dus gepas dat hierdie dag (en sommer die hele week daarna) spesiaal toegewy word om hierdie historiese geleentheid te vier.

Belangrike gaste het hierdie geleentheid op Die Werf voor die Pniël-museum bygewoon. Die plaaslike predikant eerw. Leon Klate het die verrigtinge met ’n gebed geopen. Daarna was daar geleentheid vir toesprake en uitreik na mekaar.

heuglike dag vir seniors

Vir die dorp se senior burgers, almal in blou en wit geklee, was dit ’n heuglike dag. Die kleuterskool het die volkslied, “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, met passie en uit volle bors gesing. Hulle is nog so klein, maar ken al die groot woorde. Ook die skoollied van Pniël het ’n knop in die keel gebring.

Kranse is daarna eerbiedig onder die slaweklok geplaas. Dit gee erkenning aan die Pniël Congregational kerk en predikante wat voorheen in die kerk gedien het, asook belangrike instellings in die dorp, soos sport-, skole en sake- ondernemings in en van die dorp.

Die slaweklok is om 12:00 gelui. Die diep slag op die metaal slaan vas in jou hart met ’n traan van aandoening in die oog. Die geskiedenis van slawerny en die leed wat daarmee gepaard gegaan het, sal nooit vergeet kan word nie. Dit laat almal weer opnuut toegewyd voel om aan beginsels en waardes te werk. Dit is deel van die erfenis van ons dorp, ons land en ons nageslag.

Die lui van die slaweklok. Van links dr. Lesley van Rooi, Prof. Nico Koopman, Matthew Cyster, Prof. Wim de Villiers (Rektor, Universiteit Stellenbosch), Eerw. Leon Klate, Janine Myburgh (Voorsitter PEKT) en raadslid Ralphton Adams.Foto:

Langtafel-gesprek

Vrydagaand (2 Desember) is tafels keurig vir ’n aansitete by Pniël se museum gedek. Die langtafel-gesprek is gereël om die Vryheid van slawe te gedenk. Mense wat belangstel in navorsing wat met die afstammelinge van slawe te doen het, is na hierdie geleentheid genooi.

Baie mense soek steeds na antwoorde op vrae oor hul herkoms en identiteit. Dit is nie maklik om inligting daaroor te bekom nie. Prof. Johan Fourie, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), het bevestig dat die argief oor baie rekords en registers oor slawe beskik. Hy sou graag wou sien dat inligting in ’n verteerbare, toeganklike manier beskikbaar gemaak word, sodat mense vrylik toegang daartoe kan verkry, hetsy vir navorsing of persoonlike doeleindes.

Prof. Steward van Wyk van die Universiteit van Wes-Kaapland het ook daarop klem gelê dat stories in ’n verteerbare vorm vertel moet word. Sodoende sal kinders en die jeug se belangstelling geprikkel en ontwikkel word.

Kortverhale, gedigte, skilderkuns en fotografie oor die dorp se geskiedenis is belangrike instrumente om dit aan te help.

Visit Stellenbosch se uitvoerende hoof, Jeanneret Momberg, sê dit was ’n baie goeie geleentheid om verskillende perspektiewe te kry oor die geleenthede wat bestaan om meer oor die geskiedenis van slawerny te wete te kom – spesifiek in die Dwarsriviervallei – en om te kyk hoe hierdie inligting verpak kan word om Suid-Afrikaners in die onderwerp geïnteresseerd te kry.

verskillende perspektiewe

“Vir my was dit ’n goeie geleentheid van samesyn. Die klem lê veral in die verskillende perspektiewe, want mense is geneig om uit ’n bevoorregte perspektief daarna te kyk. Dit was vir my persoonlik sinvol om insette van ander kante te kry,” het Momberg gesê.

Uit hierdie byeenkoms en gedagtes wat gedeel is, sal nog vele gesprekke voortspruit en projekte oor die dorp en erfenis aangepak word.

Vrydag – Stap vir Vryheid

Ons stap vir vryheid. En het dit vry gevoel? Dis Saterdagoggend (3 Desember) en Pniëlers klim op ’n vragmotor, soos hul voorvaders jare gelede op pad werk toe gedoen het. Die tog na Good Hope Farm in Boschendal, van waar die staptog sal begin, is ’n geskud van die eerste water.

Die sowat 60 stappers – oud en jonk – het die stap in goeie gees en met opgewondenheid aangepak.

Wanneer jy stap en uitkyk oor die pragtige natuurskoon, voel jy dankbaar en bly dat jy vry is – vry van slawerny, vry van Apartheidswette en vry van ingeperktheid. Gedagtes oor voorvaders jare gelede se stryd om vandag vir die geslagte moontlik te maak, laat jou klein voel. Jy waardeer weer van voor af wat jy het, en onderneem om te bou aan die beginsels, waardes en erfenis wat aan jou agtergelaat is.

Die sowat 60 stappers – oud en jonk – het die stap in goeie gees en met opgewondenheid aangepak. Foto:

“Die stap op Boschendal het ook ’n verfrissende en nuwe element tot die herdenking van die vrystelling van slawe meegebring. Die geleentheid van die herdenking is op ’n goeie wyse afgesluit en geleenthede bestaan om die herdenking verder te ontwikkel om meer mense te betrek en in te sluit,” het Momberg gesê.

Die vierings was in samewerking tussen Pniël Congregational kerk, die Pniël- erfenis- en kultuurtrust, Visit Stellenbosch, die Stellenbosch-munisipaliteit en Boschendal.

. Anne-Mari Lackay werk by die US se Taalsentrum en is ’n aspirantskrywer en digter sowel as lid van die Pniël-museum se skrywersklub.. Janine Myburgh, ’n gebore en getoë Pniëler, is voorsitter van die Pniël-erfenis- en kultuurtrust.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.