Twintig pasiënte het Vrydag (11 Oktober) die geskenk van beter sig gekry danksy die span van Mediclinic Stellenbosch en Isoclear.
Oktober is Oogsorg-bewusmakingsmaand en die span, onder leiding van die oogspesialis dr. Steve Steyn, het staatspasiënte pasella gehelp as deel van hul korporatiewe maatskaplike belegging. Dit was die derde pro bono-dag van sy soort.
Volgens Steyn was die dag ’n sukses met al die prosedures wat goed verloop het. Pasiënte het ’n katarak-operasie ondergaan om visie te herstel en lewensgehalte te verbeter, verduidelik Steyn. Hy was ook voorheen betrokke by die Right to Sight-organisasie, wat soortgelyke oogsorgwerk doen.
’n Katarak is wanneer iemand se natuurlike ooglens verswak en sy sig vervaag. Katarakte word veroorsaak deur die saamklont van proteïene in die lens wat mettertyd groter kan word en dowwe visie en later algehele blindheid veroorsaak. Dit was ook die geval vir die vele pasiënte wat Vrydag opereer is.
Willemina Thomas (74) van Welgemoed sê na afloop van die operasie het sy die meeste uitgesien om weer goed te kan lees. “Hulle gaan my regteroog bietjie meer helder maak. Die ander een is ook nie nice nie, maar ek sal darem kan aangaan met die regteroog. Ek is baie opgewonde om net weer helder te kan sien, want ek is lief vir my Bybel lees,” vertel sy.
Danksy sy meer as twee dekades ervaring en die hulp van vele kollegas het Steyn een oog van elke pasiënt verhelder. Die pasiënte is een vir een na die teater waar die prosedure van 10 tot 15 minute voltooi is.
Dié kort operasie maak vir pasiënte soos Lena Jeffreys (62) die wêreld se verskil.
“Ek sukkel al vir vier jaar met my sig. My linkeroog is reeds in Januarie gedoen en ek sien uit om weer volkome te kan sien,” sy dié Kraaifontein-inwoner.
Pasiënte vir die dag is deur onder meer die Tygerberg-hospitaal asook deur plaaslike oogkundiges verwys. Die meeste van die pasiënte is deur Tygerberg verwys, waar hulle reeds op die waglys was vir die operasie.
Benewens die mediese personeel het Isoclear ook ingespring om met skenkings te help.
Isoclear en Bausch & Lomb het die lense en die nodige viscoelastic voorsien.
Ryno Brynard van Isoclear sê die projek lê hulle na aan die hart en daarom is hulle jaarliks deel van die teruggee-dag.
Steyn sê die projek is ’n geleentheid om terug te gee aan die gemeenskap. “Die mense wat ons vandag opereer het, het gewis die operasie nodig gehad. Van die 20 was 10 so te sê blind. Met sulke digte katarakte kan jy niks sien nie – nie eens ’n mens wat voor jou staan nie. Vir ’n oumens om só te leef, toilet toe te gaan, pille te drink . . . dit is onmoontlik,” verduidelik Steyn.
Hy het die personeel geprys vir hul “ongelooflike werk” asook Mediclinic wat ingestem het om weer deel van die geleentheid te wees.
Marie Bok (76) van Elsiesrivier het haar ervaring gedeel en gesê hoewel sy bietjie bang was vir die prosedure, kan sy nie uitgepraat raak oor die goeie diens by die daghospitaal nie. “Dit is my eerste keer by die kliniek. Die ander oog is by Tygerberg-hospitaal gedoen, maar ek was ’n bietjie bang vir dié een omdat ek nie geweet het wat die uitslag sou wees nie. Maar ek sê vir die personeel baie dankie. Ons is goed ontvang en hul vriendelikheid spreek boekdele.”