‘Ek kon my oog verloor’

“My oë het oopgegaan, maar dit kon soveel anders gewees het – ek kon ’n oog verloor het.”.


“My oë het oopgegaan, maar dit kon soveel anders gewees het – ek kon ’n oog verloor het.”

Só sê Eon Hendrickse (30) van Idasvallei, wat die afgelope Saterdag glo deur ’n plaaslike sokkerspeler met ’n whiskeyglas in die gesig geslaan is.

Hendrickse, ’n gemeenskapsaktivis en entrepreneur, sê hy is amper bly die voorval het met hom gebeur en nie met iemand anders nie.

“Indien enigiets positiefs uit hierdie voorval moet kom, moet dit wees dat daar na veiligheid en sekuriteit gekyk word. Ek wonder ook watter ondersteuning sportlui kry om met die publiek te werk,” sê hy.

Hendrickse was Saterdag in die Centraal-kroeg in Stellenbosch toe hy glo ’n bekende plaaslike sokkerspeler by die toilette raakgeloop het. Hendrickse sê hy het ’n geselsie met dié speler aangeknoop oor die goeie nuus oor dié speler se loopbaan, maar het ’n onverwagse “aggressiewe” antwoord gekry.

“Dit was vir my vreemd, want ek is ’n ondersteuner van die Stellenbosch-sokkerklub en hoewel ek hom nie persoonlik ken nie, is ek ’n ondersteuner.”

Hendrickse sê hy is toe uit die toilette, net om die speler weer raak te loop, waar dié hom na bewering in die gesig met ’n glas getref het. “Ek het eers die warmte oor my gesig gevoel van die bloed en toe gryp ek my gesig. Mense stuur elke nou en dan nóg ’n video van die aand, maar nadat ek in die gesig getref is, kon ek nie veel onthou nie.

“Die span by Centraal was ongelooflik. Hulle het ’n ambulans ontbied, maar dit het te lank geneem. Toe vat ’n vriend my na die Stellenbosch-hospitaal. Ek het tussen 20 en 25 steke gekry.

“Daar is ’n paar op my agterkop ook, maar ek onthou glad nie hoe of wanneer ek daardie hou gekry het nie,” sê hy.

Kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, het bevestig ’n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer word ondersoek.

Sy het gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die polisieondersoek duur voort.

Hendrickse sê hoewel hy teleurgestel is in die speler se optrede, is hy selfs meer teleurgesteld in homself. Vriende het vroeër die aand glo vir hom gesê om nie na die kroeg te gaan nie, maar Hendrickse sê hy geniet gereeld ’n drankie by dié kuierplek en wou ’n basketbal-wedstryd kyk.

“Ek het hom reeds vergewe. Ek sou graag ’n verskoning van hom wou hê, maar ek het hom reeds vergewe. Nou wil ek net gesond raak en werk aan my geestesgesondheid, wat ’n groot knou weg het.

“Laat hierdie ’n les vir jongmense wees dat dit met jou ook kan gebeur. Niemand is gevrywaar van onverwagse gebeure nie. Dink net as hierdie met ’n toeris moes gebeur, of ’n student. Dit kon so anders gewees het,” meen ’n emosionele Hendrickse.

Hendrickse bestuur Ida’s Valley Community Trails wat besoekers per fiets op toere neem. Hy sê vanweë sy werk is hy veral bewus van hoe misdaad die gemeenskap kan benadeel.

Sy hoop is dus dat hierdie voorval sal beteken veiligheid sal in ’n ernstige lig beskou en opgeskerp word.

Hy hoop ook ander jong sportlui sal besef hul optrede het gevolge en dat hulle baiekeer nie net hulself in die openbaar verteenwoordig nie, maar ook die klub of organisasies waaraan hulle verbonde is. “Ek werk daagliks met mense. Dit is belangrik vir my om te onthou daar is talle mense saam met wie ek werk en wat geraak word deur my optrede in die gemeenskap.”

Die Stellenbosch-sokkerklub het by navraag gesê hy is bewus van die aantygings teen klublede en beskou dit in ’n ernstige lig.

“Hoewel hierdie voorval nie binne die grense van die klub se bedrywighede plaasgevind het nie, hanteer ons die bewerings met die grootste erns en ’n interne ondersoek is tans aan die gang om te verseker dat alle relevante feite deeglik ondersoek word,” het Liam Bekker, woordvoerder van die klub, luidens ’n verklaring gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.