Frank Opperman is aanstaande maand in Ek wens, ek wens by die Drostdy-teater te sien.


Die gewilde Drostdy-teater is in Januarie en Februarie die tuiste van twee hartroerende verhoogproduksies wat beloof om teatergangers aan die praat te hê.

Die eerste is die eenvroustuk Ek, Ouer, met Jeani Heyns, wat van Donderdag 27 tot Saterdag 29 Januarie op die planke is. Die produksie, wat deur Heyns en die regisseur Saskia Bormans geskryf is, vertel die storie van Roné, ’n enkelma wat baie hard probeer om oukei te wees.

Met die verlies van haar man nog rou in haar gedagtes, gebruik Roné haar antropologiese sintuie om ’n wêreld sonder haar man beter te verteer. Haar reis is ’n gemors van intellek, tradisie, die moderne en geloof. Dié eenvroustuk vra of daar lewe is na die dood.

Vertonings van Ek, Ouer is daagliks om 19:30 en geen onder 13’s word toegelaat nie. Kaartjies kos R120 (pensioentrekkers en studente) en R150, en kan aanlyn deur Computicket bespreek word.

In die tweede produksie is die gewilde akteur Frank Opperman van Dinsdag 1 tot Sondag 6 Februarie in Ek wens, ek wens te sien.

Dit is ’n fabelagtige verhaal oor Seb, ’n lykbesorger, wat ’n grys, eenvoudige en ongelukkige bestaan lei.

Sy lewe is een van roetine en kleinighede, en hy sien lankal nie meer die wonder en grootsheid van die lewe raak nie – totdat Seb eendag ’n engelagtige seuntjie, Gawie, ontmoet.

Die magiese gevolge van hierdie ontmoeting noop hom om te vra: “As ek net een wens het, waarvoor sal ek wens? ’n Ander werk, ’n klomp geld, beter verhoudings met die mense om my? Wat is vir my belangrik? Wat wil ek die graagste in my lewe hê?”

Die sprokiesagtige Ek wens, ek wens is veral vir nou geskik.

Die teks en produksie sal juis die gehoor dít laat doen: vir ’n oomblik weer fokus op dit wat die lewe wonderbaarlik, eerlik, eg en mooi maak; om ons kinderlike welwillendheid en onskuld weer te vind.

Die produksie is van 1 tot 5 Februarie elke aand om 19:00 te sien, met ’n middagvertoning Sondag 6 Februarie om 15:00. Kaartjies, teen R220 per persoon, kan aanlyn deur Computicket bespreek word.. Besoek gerus die teater se webtuiste by www.drostdyteater.co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.