Franklin Adams, die man wat ’n klagte oor beweerde onreëlmatige aanstellings by die Stellenbosch-munisipaliteit aangemeld het, sê die verklaring deur die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, waarin sy hom ’n “gegriefde oud-raadslid” noem, wys hoe “onprofessioneel en oneties” sy is.

Adams se aanvanklike proses met betrekking tot die beweerde onregmatige optrede het omstreeks September 2017 begin toe hy ’n dienende raadslid van die munisipaliteit was. Hy het navraag daaroor gedoen nadat hy, volgens hom, inligting van ’n amptenaar oor die betrokke dienskontrak ontvang het.

“Ek was nie ’n oud-raadslid wat gegrief was toe ek hierdie onwettighede oopgekrap het nie. Ek was ’n sittende raadslid en dit was my verantwoordelikheid as ’n opposisielid met betrekking tot my oorsigfunksie ingevolge die wet om hulle aanspreeklik te hou en om enige vermeende onwettige aktiwiteite bloot te lê,” sê Adams.

Dit volg op ’n verslag wat op 30 Maart deur die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, teen die DA-geleide munisipaliteit uitgereik is. In die verslag is bevind dat die munisipaliteit die direkteur van strategiese en korporatiewe dienste, Annalene de Beer, asook die finansiële hoof, Kevin Carolus, in onderskeidelik 2016 en 2019 onreëlmatig aangestel het.

Adams sê hy het ’n gevoel dat sy lewe moontlik in gevaar is weens sy betrokkenheid by die saak.

“[Dit] is ’n normale ding, want vir baie jare van my aktiwiteite as ’n aktivis wat teen ongeregtighede veg, teen rassisme veg, teen korrupsie veg en teen wanadministrasie veg, het ek gereelde aanmoediging van mense gekry dat ek versigtig moet wees, want dit is normaal in hierdie land dat mense soos ek gejag word, gemerk is en dat ons lewe in gevaar is,” sê hy.

Hy het geen aktiewe of formele dreigemente ontvang nie, maar volgens Adams het hy inligting ontvang van individue wat bekommerd is oor sy veiligheid, dat hy versigtig moet wees. “Ek is ’n opgeleide aktivis. Ek sal nooit bang wees vir mense wat korrup is of die land se wette oortree nie. Dié aan bewind in Stellenbosch kan nie vertrou word nie. Jy kan enigiets van hulle verwag,” sê hy.

Adams sê sy volgende stap is om sy saak van 2018 met die Valke te heropen. “As Solidariteit die Zondo-verslag kan gebruik om aanklagte teen beweerde korrupte individue aan te meld, hoekom kan ons dit dan nie met hierdie een doen nie?”

Mettler het in ’n verklaring op 31 Maart gesê die Stellenbosch-munisipaliteit roem hom daarop dat hy ’n instelling is wat die wet volg. “Soos konsekwent getoon is oor die jare van die bestuur van ’n skoon en hoogs doeltreffende regering, het die raad ’n benadering van geen verdraagsaamheid nie oor enige vorm van wanadminis­trasie of onreëlmatigheid.”

Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch-munisipaliteit, het gesê hulle is daarop ingestel om ’n “skoon, veiliger en groener Vallei van Geleentheid” te skep wat beleggings lok en werk skep.

“Om ons aan die uitbarstings en samesweringsteorieë van ’n klaarblyklik gegriefde oud-raadslid wat die raad afgedank het, te steur, is nie ons werk nie en ons hou by ons verklaring,” het hy gesê en bygevoeg dat die munisipaliteit die verslag bestudeer met die oog daarop om dit onder hersiening te neem.

“Ons kan dus nie verder kommentaar lewer of ’n hofsaak in die openbaar voer nie. Kennis moet geneem word dat ons die feitelike en regsbevindings van die Openbare Beskermer se verslag as gebrekkig verwerp.”

You need to be Logged In to leave a comment.