Die eindeksamen het amptelik vir matrikulante begin toe hulle Maandag (31 Oktober) Engels vraestel 1 afgelê het.
Môreoggend skop die klas van 2022 af met vraestel 1 van wiskunde, wiskunde geletterdheid en tegniese wiskunde.
Volgens die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) is wiskunde geletterdheid die vak wat deur die meeste kandidate in die provinsie geskryf word. Hulle is altesaam 49 672.
Die eksamen duur van Maandag 31 Oktober tot Woensdag 7 Desember.
Matrikulante sal hul individuele uitslae die volgende dag kry, wat by die skool en aanlyn beskikbaar sal wees.
Die rooster vir die volgende week is:
- Maandag (7 November): wiskunde, wiskunde geletterdheid en tegniese wiskunde (vraestel 2);
- Dinsdag (8 November): ekonomie (vraestel 2) en Xhosa (vraestel 1);
- Woensdag (9 November): rekenaartoepassingstegnologie (vraestel 2);
- Donderdag (10 November): geskiedenis (vraestel 2); Suid-Afrikaanse gebaretaal (vraestel 1) en inligtingstegnologie (vraestel 2)
- Vrydag (11 November): fisiese wetenskappe (vraestel 1) en tegniese wetenskappe (vraestel 1).
Hier is ’n paar motiverende woorde vir die week wat voorlê. Wyle oudpresident Nelson Mandela het dit baie mooi gestel: “Onderwys is die kragtigste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld te verander.”