Dit was ‘n tragiese einde vandeesweek vir ‘n “inwoner” van die Exotic Animal World Klapmuts nadat ‘n vrywilliger dit vermoedelik goed gedink het om drie van die instansie se eksotiese diertjies te steel.
Die personeel van Exotic Animal World Klapmuts, voorheen bekend as Butterfly World, was sedert Sondag (5 Oktober) op soek na ‘n vrou wat die vorige dag by die sentrum as vrywilliger gewerk het. Volgens ‘n inskrywing op die sentrum se sosiale me het die vrywilliger die vorige dag drie eksotiese diertjies huis te geneem “om hulle ‘n beter lewe te gee”.
Die sentrum spesialiseer as ‘n toevlugsoord vir onder meer spinnekoppe, ape, slange en voëls wat of deur hul eienaars oorgegee is of deur plaaslike owerhede gekonfiskeer was en in die sentrum se sorg geplaas is.
Volgens die sentrum het hulle die vrywilliger vertrou en was sy deel van hul omgewingsverrykingsprogram. “In 30 jaar het ons nog nooit so ‘n voorval gehad nie – ons is kwaad en hartseer. Ons sorg vir talle eksotiese diere wat voorheen as troeteldiere aangehou is. Ons erken dat baie eienaars hul eksotiese troeteldiere in goeie omstandighede aanhou, maar baie kom hier by die sentrum aan met mediese en geestesprobleme wat ons moet probeer oplos. Meer as 90% van eienaars begryp nie ten volle dat eksotiese diere, in teenstelling met huiskatte en -honde, steeds wilde diere met verskillende en spesiale behoeftes is nie,” het die sentrum oor die voorval gesê.
“In baie gevalle dink mense dat eksotiese diere oulik, vriendelik, Instagram-materiaal en ‘die beste vriende ooit’ vir mense is, maar verstaan nie dat ons hierdie ‘babas’ inneem en weer [ware] diere maak deur hul diëte te verander, hul eie vriende te gee en hulle in verskillende kampe weg van slaapkamers, kombuise, agterplase of motorhuise te vestig nie.”
Ondersteuners van die sentrum het hulle skok, woede en hartseer oor die voorval uitgespreek. Sommige was egter omgekrap oor die sentrum se besluit om nie meer vrywilligers vir die betrokke program in te neem nie.
Die vrou is intussen, vermoedelik met behulp van beamptes van die polisie se gespesialiseerde diere-eenheid, opgespoor. Een van die drie diertjies is na bewering in haar sorg oorlede, maar die ander twee is weer tuis by Exotic Animal World Klapmuts.
Weens die polisie-ondersoek wat ondervat is word die betrokke spesies nie in die stadium bekendgemaak nie. Die sentrum het al hul ondersteuners bedank vir hul hulp en navrae na die voorval.


