Leerders van die Hoërskool Cloetesville is onlangs uitgedaag om hul drome na te jaag.
Mediclinic, in samewerking met Partners for Possibility (PfP), het dié uitdaging aan die leerders gestel by ’n loopbaanekspo wat op 14 en 15 Augustus by die skool aangebied is.
Die doel van die ekspo was om met die leerders in gesprek te tree en hulle aan te moedig om ’n wye spektrum loopbane te oorweeg wanneer hulle eendag moet besluit watter beroep hulle wil volg.
Verteenwoordigers van meer as 30 verskillende loopbaanrigtings het aan die ekspo deelgeneem en aan leerders verduidelik wat elke rigting behels, die verskillende vakke wat daarvoor gekies kan word asook moontlike geleenthede wat elke rigting bied.
Meer as 600 leerders – 239 graad 9-leerders, 199 graad 11-leerders en 148 graad 12-leerders – het die twee dae tussen die verskillende stalletjies deurgestap.
Mishqa Verloend, een van die graad 12-leerders wat die ekspo bygewoon het, het voorheen aan ’n loopbaan by ’n hospitaal in ’n bemarkings- of administratiewe rol gedink, maar vind nou aanklank by binneversiering, wat ’n belangrike element is as dit by die ontwerp en uitleg van hospitale kom.
Talle leerders is deur die rol wat ER24 in die gemeenskap speel aangespoor en heelwat leerders het belangstelling in ’n loopbaan as paramedici getoon.
Reagan Adams, ’n graad 11-leerder, het gesê om ’n loopbaan as verpleër te volg, is vir hom aanloklik danksy die televisiereeks Grey’s Anatomy.
“Ek waardeer die moeite wat ’n onderneming soos Mediclinic doen om meer insig te bied in wat alles vir ons daar buite beskikbaar is,” het hy gesê.
Dorian Meyer, die skool se hoof, sê dit is belangrik dat leerders eienaarskap van hul toekoms neem.
“Ek hoop hierdie ekspo was ’n geleentheid wat hulle sal help om vorentoe te beweeg en gewys het watter moontlikhede daar alles is.”
Die skoolhoof se visie vir sy leeerders, skool en die hele Cloetesville-gemeenskap is om die beste geleenthede, wat tot voordeel van die leerders sal strek, met mening na te jaag en te ontgin.
Deon Myburgh van Mediclinic sê die groep het aan die ekspo deelgeneem omdat hulle wil help om die land se jong generasie te ontwikkel.
PfP is ’n leierskapsprogram wat skoolhoofde van minderbevoorregte gemeenskappe en sakeleiers bymekaar bring om vennootskappe te vorm.
Deur Hoërskool Cloetesville se vennootskap en samewerking met Mediclinic word die skoolhoof en skoolbestuur bemagtig om die uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word, te bestuur.
Die hospitaalgroep werk ook met die skool se bestuur saam om ander kwessies soos veiligheid en basiese dienste, hetsy self of deur hul vennote, aan te pak.
Jessica Batts, fasiliteerder van die program, sê sy is uiters opgewonde oor die suksesse wat deur hierdie vennootskap behaal is.