’n Man van Stellenbosch het ’n crèche in Cloetesville meer as R150 000 gespaar toe hy die gebou manalleen geverf het.
Eli September, ’n 68-jarige afgetrede rekenmeester, sê hy het op ’n dag verby die Nora Tyers Crèche gery en gesien hoe die verf van die gebou afpeul.
“Ek het gedink die skooltjie makeer ’n verf. Ek het dadelik ’n e-pos-boodskap na die direkteur van Stellsorg gestuur om te vra of ek kan help om die skool te verf. Die direkteur het gesê hulle het toevallig daardie tyd ’n skenking vir verf gekry,” sê September.
Die skoolgebou van 6 982 m² is 25 jaar gelede deur die einste September ordentlik geverf. Dit, en sy noue verbintenis met die skool, waar sy vrou ook vir 25 jaar ’n graad-R onderwyser was, is die rede hoekom September nie net verby kon ry nie.
“Ek was vir 28 jaar in die ou Kindersorg se bestuur, dus weet ek wat die organisasies en skole soos hierdie vir die gemeenskap beteken. Ek weet ook dat hulle nie geld het om mense vir hierdie dienste te betaal nie,” voeg hy by.
Die skoolhoof van Nora Tyers Crèche, Estelle Jacobs, sê dit is ’n groot seën vir die skool dat September – al is hy so ’n hoë ouderdom – die skool kon verf.
“Ons het kwotasies aangevra en dit sou R150 000 kos. Ons het ook vir mense in die gemeenskap gevra om te kom help, maar mense soek almal betaling, en as hulle hoor ons kan nie betaal nie, draai hulle om. Dis hartseer, want die skool gee daagliks vir meer as 200 mense in die gemeenskap kos. Baie van die jongmans staan net hier in die straat rond, maar wil nie kom help nie,” sê Jacobs.
Sy sê 40% van die skool se uitgawes word deur die staat gesubsidieer, en die ander 60% kom van skoolgeld wat die ouers moet betaal. Die skool bedryf ook ’n sopkombuis en selfs ouers wat kinders by die skool het, kom soms vir iets te ete.
Toe niemand bereid was om te help nie, het September besluit om sy verfkwasse en leer te gaan haal en het manalleen begin verf.
“Ek het op die plaas grootgeword, en daar het ons geleer om hard te werk, so my werktrots dra my deur. Ek begin soggens 09:00 en verf tot smiddae 17:00 as die weer my toelaat,” sê September.
“Dit is lekker. Ek kan iets vir die gemeenskap doen; vir ’n organisasie wat so baie vir die gemeenskap beteken. Behalwe die skool se naam, wat ek oorgeverf het, het ek ook ander prente op die mure geverf, soos die landsvlag en die Springbok-embleem.”
September sê hy wil graag hierdeur mense aanmoedig om meer betrokke te raak in die gemeenskap en eienaarskap van hul omgewing te neem. “Ons kan nie ons verantwoordelikhede aan ander oorlaat nie; ons moet ons eie deel self doen. Alles gaan nie oor geld nie, en jy het ook nie geld nodig om te help nie.”