As een van die finale aanbiedings van die 2024-Endler-konsertreeks dirigeer Johan de Villiers Saterdag 16 en Sondag 17 November twee uitvoerings van Felix Mendelssohn se oratorium Elijah.
Brittany Smith (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzo), Siphe Mdena (tenoor) en Conroy Scott (bariton) tree as soliste op, met laasgenoemde in die titelrol van Elijah, waarvoor hy ná die 2018-Toyota Stellenbosch Woordfees die trofee vir die beste vertolker in vokale klassieke musiek toegeken is.
Die koor van meer as 100 sangers bestaan meestal uit oud-lede van die Libertas-koor, maar word ook aangevul deur ’n aantal talentvolle koorsangers uit die Wes-Kaap. Die orkes bestaan uit 45 professionele instrumentaliste, met die konsertmeester Petri Salonen, en die orrelbegeleiding word waargeneem deur Zorada Temmingh.
Die eerste uitvoering van Elijah, gedirigeer deur Mendelssohn het op 26 Augustus 1846 in Birmingham, Engeland, plaasgevind en was ’n dawerende sukses. Mendelssohn se geniaal musikale uitbeelding van grepe uit die profeet Elisa se lewe, met tekste direk uit die twee Konings-bybelboeke, behou tot vandag die onteenseglike status as een van die heel geliefste en mees uitgevoerde oratoria.
Ná ’n naatlose ineenvloeiing van hoë drama afgewissel deur lieflike liriese oomblikke word die oratorium uiteindelik op ’n hoogtepunt afgesluit deur die magtige slotkoor met die profetiese Jesaja-teks “And then shall your light break forth”.
Die konsert begin op albei dae om 15:00. Kaartjies, teen R320 elk, is aanlyn beskikbaar deur Webtickets.
Vir meer inligting, skakel 021 808 2358 of besoek www.endler.sun.ac.za.