Ons bevind onsself in ’n onvoorspelbare era. Die jeug sit vandag met probleme wat reeds vir jare ophoop, probleme wat (moontlik) deur vorige generasies geïgnoreer is.
Ten spyte van elke generasie se beste pogings bevind ons onsself steeds in ’n land met ’n onstabiele sosio-politiese klimaat, drastiese ongelykhede en rassespanning. Hier is dit die Guptas en Zuma. Elders is daar Trump en Brexit. Aardverwarming veroorsaak oral probleme.
Daarom moet die jeug vandag ’n paar vrae vra: Hoekom lyk die toekoms vir ons so vaal? Kan ons nog enigsins positief wees?
Positiwiteit is nie die ontkenning van die werklikheid nie, maar eerder om optimisties te wees ten spyte daarvan.
Maar ons kan ook nie die toekoms blink dink nie, want nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die globale konteks is daar baie afstof nodig.
Martin Luther King het gesê: “If we are to have peace on earth… our loyalties must transcend our race, our tribe, our class, and our nation; and this means we must develop a world perspective.”
’n Blink toekoms begin dus by jouself. Dit is ’n doelbewuste ingesteldheid om ’n verskil te wil maak.
Die verskil begin in jou kop en nie by jou mond nie, want dit is baie maklik om oor alles wat nie reg is nie te kla en te kerm.
Die uitdaging is om te besef as jy nie ’n verskil maak nie, daar nie ’n verskil gaan wees nie. As jongmense dink dinge moet verander en net mooi niks doen nie, is ons generasie stom en ons toekoms dof.
Sou ons egter oplossings soek wat gelykheid kan bevorder, rassespanning en konflik kan verminder en mense deur opvoeding van goeie kwaliteit kan bemagtig, dan doen ons die nodige poetswerk.
Meer as ooit te vore is dit ons generasie wat die leisels moet opneem. Dit is ons, my medejeugdiges, wat ding moet omdraai en self die stoflappe moet optel.
Want as ons ’n blink toekoms wil hê, gaan ons dit blink moet vryf.
Is dit maklik? Nee. Is dit vinnig? Nee. Is dit moontlik? Absoluut.