Die einde van die jaar beteken vir vele studente die einde van hul akademiese kursus en só het 189 studente aan Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut in Stellenbosch gegradueer.
Die studente het Saterdag (7 Desember) weggestap met kwalifikasies wat wissel van sertifikate en diplomas in landbou tot ’n baccalaureusgraad.
Altesaam 52 studente het die leerlingskapprogram suksesvol voltooi, 57 die diplomaprogram en 73 die B Agri-program. Sewe het sertifikate in perdestudie ontvang.
“Jou gradeplegtigheid inspireer hoop. Ek prys jou namens die premier, Alan Winde, die Wes-Kaapse regering, die raad van die Elsenburg Landbou-opleiding-instituut onder professor Danie Brink, en die mense van ons provinsie. U is die toekoms van landbou,” het dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, gesê.
Vanjaar se dux-toekennings het aan Danelle Groenewald van Philadelphia (leerderskapprogram); Engela Uithaler van Ladismith (diploma in landbou) en Johanna Slabber van Mooreesburg(B Agric) gegaan.
Die nasionale Wolkwekersvereniging-toekenning in Wolproduksie is aan Keanu Cilliers oorhandig, terwyl Gert Viljoen aangewys is as die beste student in dieregesondheid (kleinvee) en Johanna Slabber was die beste student in dieregesondheid (grootvee).
“ ’n Geskoolde arbeidsmag is een van die sleutelpilare van die Westerse se Groei vir Werksgeleenthede-strategie (G4J). Elsenburg skep al langer as 125 jaar geleenthede vir die jeug in die landbou. Dit sal nog jare so voortgaan om die sektor in staat te stel om by te dra tot die gewaagde teiken wat vir 2035 gestel is waar ons streekekonomie met 5%” per jaar sal groei,” meen Meyer.
Spesiale toekennings het gegaan aan Danelle Groenewald as beste student in diereproduksie: NKR vlak 4 en die beste student in plantproduksie (wingerdbou) NKR vlak-4 is aan Valentino Januarie oorhandig. Op haar beurt was Petrovene van Wyk die beste student in plantproduksie (pomologie) NKR vlak 4.