Matriekleerders van hoërskole in Stellenbosch sal van hierdie week af saam met 53 759 ander leerders hul laaste skooleksamen aanpak.

Die Nasionale Senior Sertifikaat-eindeksamen het reeds begin met die RTT Prakties en IT Prakties se eksamens wat onderskeidelik Maandag en Dinsdag plaasgevind het.

Aanstaande week kom Duits, rekeningkunde, Engels en die eerste wiskunde- en wiskundegeletterdheid-vraestelle aan die beurt.

Onderwysers van die verskeie skole meen matrieks het so deeglik as moontlik vir die groot oomblik voorberei en al wat die leerders nou kan doen, is om te wys wat hulle geleer het.

“Die voorbereiding gaan om al die rowwe kante af te werk en vir die ekstra 5% te werk,” sê Paul Rooser Henco du Pisanie. “Ek is vol vertroue oor die eksamen.”

Lucette van Niekerk, wiskunde-vakhoof by Paul Roos Gimnasium, sê hulle het die leerders goed vir die komende wiskundevraestelle voorberei en daarom hoef die leerders nie onseker te voel oor wat om te verwag nie. “Die sleutel tot sukses is dus net om dit wat onderrig is, vas te lê en te verskerp.”

Johann Bouwer, ook ’n Paul Rooser, sê hy sien daarna uit om die eindeksamen te skryf.

“Dit is tog waarvoor ons die hele jaar lank al voorberei. Ek voel die onderwysers het ons goed voorberei en dit is nou ons verantwoordelikheid om die laaste moeite te doen om op ’n hoë noot te eindig.”

Rozanne van Dyk, graadhoof van die graad 12’s by Rhenish Girls’ High, sê die matrieks en die onderwysers het ure se harde werk agter die rug om vir die eindeksamen voor te berei.

“Ons is vol selfvertroue dat ons graad 12-leerders uitstekende resultate in hierdie eksamen sal behaal en dat ons weer ons jare lange 100%-slaagsyfer sal behaal. Ons matrieks is gedrewe, vasberade en daarop gefokus om hul beste te lewer.”

You need to be Logged In to leave a comment.