Die musiekdepartement van die Universiteit Stellenbosch (US) se tweede seisoen van die Endler-konsertreeks sal van Vrydag 2 Augustus tot Saterdag 7 Desember duur.
Die tweede seisoen volg op die geweldige sukses van vanjaar se eerste seisoen, en begin met ’n opwindende en besige naweek van optredes deur die Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (SAMA)-genomineerde Juliet String Quartet (2 Augustus) en die wêreldbekende US-koor (Saterdag 3 Augustus).
Die US departement van musiek vier ook ’n mylpaal, met die US-kamerkoor, onder leiding van Lunathi Ncamani en Martin Berger, wat Sondag 4 Augustus sy 10de herdenking met ’n spesiale optrede by die Hugo Lambrechts-ouditorium in Parow vier.
Die optrede van die Juliet String Quartet, Something Old Something New, sal werke insluit deur Haydn, Dvorak en die wêreldpremière van ’n werk wat spesifiek vir hierdie konsert deur die Suid-Afrikaanse komponis, Franco Prinsloo, geskryf is.
Die werk bestaan uit vyf kort, liriese transkripsies van melodieë in kontrasterende style. Die kwartetlede is dr. Annien Shaw (viool) en dr. Babette Roosenschoon (tjello) van die US-musiekdepartement, en Matthew Stead (viool) wat ook die mede-prinsipaal tweede viool van die Kaapstad Filharmoniese Orkes is. Remi Ludick sluit vir die laaste keer op altviool by hulle aan, voordat hy sy studies in Ierland voortsit.
Die Juliet String Quartet het ’n lang geskiedenis van samewerking met plaaslike komponiste. Die kwartet, wat in 2014 gestig is, streef altyd daarna om ten minste een Suid-Afrikaanse komposisie per program in te sluit, nie net om plaaslike komponiste te ondersteun nie, maar ook om gehoorlede aan te moedig om dieselfde te doen.
Hul 2023-album, Maike, bestaan uit ’n seleksie van werke deur sulke komponiste, met wie die kwartet goeie werkverhoudinge gevorm het. Die album het hulle ’n SAMA-nominasie besorg.
“Dit was by die SAMA-toekennings waar ek Prinsloo ontmoet het, die wenner van die Beste Klassieke Album-kategorie vir 2023,” verduidelik Shaw. “Ons het wedersydse bewondering vir mekaar se werk gehad en besluit om binnekort saam te werk. Dit is hoe Prinsloo se werk uiteindelik vir hierdie optrede gekomponeer is. Ons is baie opgewonde om ‘Stringsongs’ op die Endler-verhoog te première.”
Ander hoogtepunte van die seisoen sluit in die debuut van ’n uiters unieke konsert, Paranoid Android: Pierrot Lunaire and other psychedelic trips, Vrydag 23 Augustus sowel as ’n samewerking tussen die US-musiekdepartement en die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid, in ’n spesiale konsert ter ondersteuning van #Action4Inclusion met die Palissander-kamerkoor op Saterdag 31 Augustus.
Benewens gereelde topgehalte konserte van uiteenlopende genres soos kamermusiek en kooroptredes, orkes- en grootorkesoptredes sowel as jazz- en Afrika-musiek, is daar ook spesiale, eenmalige konserte op die spyskaart vir die res van die jaar wat nie gemis moet word nie, insluitend The Symphonic Bridges (Dinsdag 6 Augustus); die US-simfonieorkes (Saterdag 6 September); en ’n spesiale konsert ter viering van die legendariese dirigent Richard Cock se 75ste verjaardag (Sondag 27 Oktober).
Opwindende simposiums en kompetisies vind ook vanjaar by die US Konservatorium plaas, soos die Simposium van Suid-Afrikaanse Komponiste van Maandag 9 tot Vrydag 13 September, die US Nasionale Ensemble-kompetisie (Saterdag 21 September) sowel as die bekende Hubert van der Spuy- (September) en Nasionale Jeug-musiekkompetisies (Desember).
- Kaartjies vir konserte wat in Augustus plaasvind, is reeds aanlyn deur Webtickets beskikbaar. Inligting oor kaartjieverkope vir ander konserte vir die seisoen sal op die US Konservatorium se sosiale media platforms aangekondig word.