“Die reën kom nog in Johannesburg aan, dan stoot die water al hier op.”
Tydens die winter se reënweer kan Lorraine Telemachus (80) en haar gesin nie ’n voet by hul agterdeur uitsit nie. Die water wat jaar ná jaar in die agterplaas opdam, maak modder en ’n gemors. Die water staan later kniehoogte.
Dit beteken ook die gesin kan nie by hul toilet agter die huis uitkom nie. Selfs hul hond, Webster, bly dit nie gespaar nie. Elke keer wanneer die water van die nabye drein opstoot, is sy hok half onder water.
“Ek het gesê ek gaan nie meer oor die saak huil nie,” sê ’n emosionele Telemachus.
Sy kla reeds die afgelope 35 jaar by die Stellenbosch-munisipaliteit oor dié probleem. In die erf is daar ’n mangat, maar die rioolwater kan nie deur die gat wegloop nie, aangesien dit hoër as die waterlyn is.
“Hoekom die munisipaliteit nie net ’n pyp kan insit sodat die water net kan wegloop nie, sal ek nooit verstaan nie. Dis rioolwater. Ek het al twee honde gehad wat alles geëet het wat opgestoot het. Hulle het natuurlik siek geraak.
“Almal was al hier oor die probleem – die raadslid en beamptes – maar niks word gedoen om ’n permanente oplossing te kry nie,” sê Telemachus.
Langsaan, by Eveline Samson se woning, stroom water oor die erf.
“Elke winter is dit dieselfde storie. By die munisipale kantoor sê hulle ons moet aanhou om die situasie aan te meld, maar niks gebeur nie,” sê Samson, wat karton by haar voordeur pak om die ergste water uit te hou.
“Dit bly klam. Die munisipaliteit het vir ons sandsakke gegee, maar die water sif steeds deur,” sê sy.
Samson het twee kleinkinders en sê sy sal weens die klammigheid met hulle dokter toe moet gaan.
By navraag het die munisipaliteit bevestig verskeie huishoudings is deur stormwater geraak wat die rioolstelsel binnedring, veral tydens die winter se swaar reënval.
“Ons het terugslagkleppe aangebring as ’n korttermynoplossing vir verskeie geraakte inwoners, en [Telemachus] se adres sal by die lys gevoeg word indien die kwessie rioolverwant is. Ons waterafdeling sal ’n deeglike ondersoek doen om die oorsaak van die probleem te bepaal,” sê Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit.
Grobbelaar sê indien die probleem nie by die rioolstelsel lê nie, is dit die verantwoordelikheid van die huiseienaar om ’n oplossing, binne die voorgeskrewe munisipale verordeninge, te vind.