Die Stellenbosch-munisipaliteit wend hom nou na die hooggeregshof in Kaapstad om optrede te eis teen die eienaar van ’n verlate stuk grond in Birdstraat, waar twee studente in 2022 verongeluk het.
Erf 7565 in Birdstraat was die toneel waar Leila Lees (18) en Ethan Kirkland (19) in Oktober 2022 gesterf het toe hul Subaru Forester hier onderstebo in ’n gat in die middedorp beland het. Die gat, ’n steengroef, was toe met water gevul.
Die gat op die perseel was deel van ’n ontwikkelingsprojek wat bykans drie dekades gelede gestop is toe die ontwikkelaars glo nie aan sekere bouvereistes voldoen het nie.
Die voorval het in daardie stadium weer Stellenbossers, wat al jare lank kla oor die gevaar wat die verlate bouperseel inhou, aan die praat gehad.
In die vroeë 1990’s is goedkeuring gegee vir ’n multi-residensiële gebou om op die grond ontwikkel te word. Die eienaar het glo nie aan vereistes voldoen nie en het geweier om ’n voorgeskrewe glipbaan te ontwikkel wat gebruik sou word om toegang tot die eiendom te kry.
Die munisipaliteit het verlede week in ’n verklaring gesê oor die jare was daar baie gesprekke oor erf 7565. “Die munisipaliteit het deurgaans met die eienaar van die eiendom geskakel in pogings om die ontwikkeling van die terrein te fasiliteer. Verskeie ingrypings en voorstelle is deur die munisipaliteit voorgehou om die proses te bespoedig.”
Die munisipaliteit het toe kennisgewings aan die eienaar van die eiendom uitgereik toe daar nie aan hul versoeke vir veranderinge gehoor gegee is nie. Hy het onder meer die herstel van die eiendom vereis, insluitend die rehabilitasie van die uitgrawings.
Die saak sal op 17 Oktober in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word waar die munisipaliteit versoek dat ’n bevel uitgereik word om die eienaars te verplig om die uitgrawing te herstel en die veiligheid en stabiliteit van die terrein te herstel.