’n Besonderse aand saam met die reis­skrywer Erns Grundling, fotojoernalis en TV-aanbieder, word binnekort by Paul Roos aangebied om geld vir Huis Bendiga in te samel.

Hierdie tehuis bied ’n tuiste en ver­sor­ging vir volwassenes met neuro­bio­logiese siektes.

Almal wat graag die Camino-staproete in Spanje wil stap, kan dié aand na Grundling kom luister en PRG se kamerorkes en sanggroep se musiek, asook ’n heerlike driegangmaaltyd, geniet.

Grundling, wat as reisjoernalis naam gemaak het en ook onlangs op TV te sien was in die program Die Ware Naarheid saam met Schalk Bezuiden­hout, gaan ’n uur lange praatjie lewer oor sy twee Camino-staproetes in Spanje en ’n voorlesing doen uit sy boek Elders. Hy gaan gesels oor die praktiese aspekte, maar ook oor mindfulness, stap as terapie en die binnereis. Hy sal sy boek te koop aanbied en dit teken.

Grundling was vroeër vanjaar mede-vervaardiger en aanbieder van Elders: Die Camino, ’n dokumentêre werklik­heids­reeks op kykNET oor die Camino wat in Spanje verfilm is.

V Kaartjies is te koop by Elza van der Walt by die skool se OSU-kantoor.

You need to be Logged In to leave a comment.