Raadslede Reginald Pheiffer en Lwando Nkamisa met die petisie. Foto: Facebook/DA Stellenbosch


Indien Eskom sy sin kry, sal direkte-krag-kliënte volgende jaar 36,15% meer vir elektrisiteit betaal, 11,81% meer die daaropvol­gen­de jaar en 9,10% meer van 1 April 2027 af.

Eskom het Dinsdag in ’n verklaring verduidelik die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) sal nou belanghebbendes en die publiek raadpleeg vir die aanvaarding van dié voorgestelde prysverhoging.

Intussen heers kritiek teen die voorgestelde verhogings. In die Nasionale Vergadering is verlede Donderdag antwoorde geëis oor die “onbekostigbaar­heid” van die voorgestelde heffings. Stellenbosch se regerende Demokratiese Alliansie het ook verlede week sy stem by dié van vele teenstanders van die beplande verhoging gevoeg deur ’n plakkaat-optog in die dorp te hou. Volgens die party sal die verhoging nog meer finansiële druk op kraggebruikers plaas, wat talle Suid-Afrikaners sal dwing om tussen kos en elektrisiteit te kies.

Eskom se sesde veeljarige tariefaansoek vir die kragverskaffer se boekjare 2026 tot 2028 (1 April 2025 tot 31 Maart 2028) is Maandag deur Nersa gepubliseer. Hierdie inkomste-aansoek vorm deel van die dokumente wat die reguleerder sal gebruik om te bepaal of die tariefverhogings vir direkte kliënte, hoofsaaklik munisipaliteite en die nywerheidsektor aanvaar sal word.

“Ons gaan die volgende fase van die regulatoriese proses binne waar Nersa ’n uitgebreide openbare konsultasie oor Eskom se inkomste-aansoek sal hou en ons doen ’n beroep op soveel as moontlik belanghebbendes om betrokke te raak sodat Nersa ’n sleutelkomponent kan bepaal in die finansiering van konstante elektrisiteitsvoorsiening wat ekonomiese groei en ons lewensgehalte vir die komende jare dryf,” het Calib Cassim, die finansiële hoof van Eskom, gesê.

“Wanneer Nersa sy besluit neem, sal hy bekostigbaarheid oorweeg vir geïdentifiseerde kwesbare sektore, insluitend behoeftige klante en sekere nywerheidsektore. Eskom het sy inkomste-aansoek gedoen op grond van die koste wat dit sal aangaan om elektrisiteit doeltreffend aan die klant te verskaf en dit is ’n kritieke komponent om te verseker dat Eskom voortgaan om betroubare elektrisiteitsdienste te verskaf terwyl dit sy finansiële volhoubaarheid deur ’n migrasie na koste-verwante pryse verbeter.”

Eskom voer aan die voorgestelde tariewe sal help om die kragreus finansieel volhoubaar te hou, wat sal bydra tot suksesvolle kragverskaffing. Die aansoek vir inkomsteverhoging is onderskeidelik R446 miljard vir die 2026-boekjaar, R495 miljard die daaropvolgende boekjaar, en R537 miljard vir die 2028-boekjaar.

Belanghebbendes het tot Vrydag 1 November om op die voorgestelde tariewe kommentaar te lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.