Van der Stel Evergreens is verlede Dinsdag (25 Oktober) amptelik as die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se Noordelikeliga-kampioene by die unie se jaarlikse bekeruitdeling gekroon.
Van der Stel Evergreens (VDE) het sy jaar op ’n hoë noot afgesluit toe albei sy eerste en tweede spanne die liga gewen het.
Kosie Lewis (president), Regan Marcus (hulpafrigter) en Avril Fillies (bestuurder) het die geleentheid in die Kelvin Grove-klubsaal in Nuweland bygewoon en die “eerstes” en “tweedes” se bekers by WP se bekeruitdeling in ontvangs geneem.
In die Promosieliga het albei ook tweede geëindig, onderskeidelik ná Hamediehs wat die liga gewen het, en Sir Lowrians wat die kompetisie vir tweede spanne gewen het.
Voor die Promosieliga het VDE 1 en 2 die Noordelikeliga onoorwonne afgesluit en almal het geweet die groot toets sou in die topnege (drie spanne wat in die eerste drie plekke in Noordelike, Suidelike en Stadsliga) wees om te bepaal wie die Promosieliga sou wen.
VDE 1 het twee wedstryde, teen Hamediehs en Sir Lowrians, verloor en moes met twee punte die knie voor Hamediehs buig.
VDE 2 het in die Promosieliga heeltemal uit die bus geval, want spelers het gedink hulle is groter as die spel.
Alles wat Dinsdae en Donderdae op die oefenveld getoets en afgerond is, is op dié Saterdag in die wedstryde teen die opponente heeltemal by die kantlyn uitgegooi, want elkeen wou die wedstrydwenner wees. Dit is dan ook die hoofrede waarom VDE 2 tweede geëindig het.
Met die seisoen agter die rug is alle oë nou gerig op die voorseisoense voorbereiding vir 2023, want wedstryde gaan op ’n tuis-en-weg-basis beslis word.
Die formaat vir ligawedstryde aanstaande jaar sal deur die WPRU ná afloop van die Score Sewes bepaal word en spanne sal dan weet teen wie hulle, asook waar en wanneer hulle speel.
Alastair Siegelaar, hoofafrigter van VDE, is gepols oor die nuwe uitdagings wat vir VDE voorlê.
“Die spelers het hard gewerk van vroeg Januarie en verdien al die krediet wat hulle ontvang. Ons doelwit was om promosie na Superliga C (SLC) te beklink en ons het dit gedoen, en almal is baie trots op al die spelers, afrigters en bestuur wat ’n bydrae gemaak het tot die sukses.
“Maar dis nou verby en die groot uitdaging is om in die 2023-seisoen op te volg met ’n meer gefokusde mentaliteit om eerstens seker te maak ons kan die status behou en dan tweedens onsself te meet aan wat SLC gaan opdis.
“Ons gaan vir seker nie op enige span fokus nie, maar liewer ons eie doelwitte stel en dan weer die proses van harde werk, en wat daarmee gepaard gaan, volg. Ons sien uit na die nuwe uitdaging,” sê Siegelaar.
VDE, Hamediehs en Masiphumelele is almal na SLC gepromoveer en kom volgende jaar te staan teen spanne soos Macassar, Kraaifontein, Rangers, Morningstar, Eersterivier, Blue Jets, Blue Stars, Albions, Pniël-Villagers, Goodwood, Scottsdene-Sentraal en Busy Bee.