Die Excelsior-rugbyklub het Saterdag 8 Februarie op sy tuisveld in Cloetesville in sy eerste oefeningswedstryd van die voorseisoen die span van Young Stars met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Dié klipharde wedstryd is in warm Bolandse weer gespeel, wat die spanne genoodsaak het om bykomende waterpouses te neem.
Die besoekers was net ná die eerste waterpouse danksy ’n onverdoelde drie eerste op die telbord met die telling 5-0.
Skaars minute later het Excelsior verwoed aangeval, maar klein foute het die tuisspan kniehalter om sy eerste punte op die telbord te kry.
Gedurende lemoentyd het die Excelsior-afrigters met hul spelers vergader en harde woorde het in die kring geval. Hulle het Excelsior se eerste-keuse-spelers opgestuur – ’n besluit wat dadelik vrugte afgewerp het toe die plaasvervanger-heelagter Cole du Toit ná skitterende balspoed deur die agterspelers langs die pale oorduik. Die losskakel, Laythom Small, het verdoel (7-5). Excelsior het na ’n hoër rat oorgeskakel. Ná ’n goeie lopie deur die stut Jordie Davids het Small die bal oor die Young Stars-verdedigers se koppe geskop en die bal het vir die woelige flank Leython Koopman reg geval, wat onder die pale vir ’n verdoelde drie (14-5) oorgeduik het. Young Stars het minute later gedruk om die telling 14-10 te maak, maar Excelsior se verdediging was tot die eindfluitjie rotsvas.
Jordie Davids se spel het hom die Speler van die Wedstryd-toekenning besorg.. Excelsior se volgende voorseisoenwedstryd is Saterdag (22 Februarie) teen die Klipdrift-rugbyklub op die B-veld van die Danie Craven-stadion. Die tweedespan-wedstryd skop om 14:45 af, gevolg deur die eerstespan-wedstryd om 16:00.