Die Excelsior-rugbyklub het die span van Gordonsbaai Pioneers Saterdag (26 April) met skitterende hardloop-rugby met die kous oor die kop huis toe gestuur toe hy met 39-19 geseëvier het.
Die Noordelikeligawedstryd is in snikwarm hitte op die Cloetesville-sportterrein gespeel.
Die besoekers het soos ‘n patroon uit ‘n geweer begin toe hulle binne die eerste paar sekondes van die afskop ‘n drie aangeteken het (0-5).
Direk ná die afskop het die Excelsior-vleul Chad Fernandez die bal uit die lug gepluk en regdeur die Pioneers- verdediging gehardloop, maar hy is reg onder die pale met ‘n hoogvat platgetrek. Die skeidsregter het ‘n strafskop toegeken en die losskakel, Nazmie Cornelson, het seker gemaak dat sy span hul eerste punte aanteken (3-5).
Die groot slot Johan Wentzel was volgende om punte aan te teken. ‘n Beplande stukkie taktiek is mooi deur Wentzel afgerond en Cornelson het uit die hoekie verdoel (10-5). Hierna het die tuisspan verwoed aangeval, maar klein foutjies het hom verhoed om voor halftyd nog punte aan te teken.
Met die omdraaislag het die wedstryd in replika begin toe Gordonsbaai se buitesenter ‘n losbal opgetel en regdeur genael het om langs die pale vir ‘n verdoelde drie oor te duik (10-12).
‘n Fout deur die tuisspan het tot ‘n strafdoel gelei. Die Pioneers-heelagter het die bal by ‘n losskrum opgetel en onder die pale gedruk. Die doelskop was oor en die telling het 10-19 geword.
Die vlugvoetige Fernandez het die gaping laat krimp toe hy ‘n onverdoelde drie, ná ‘n puik spanbeweging, afgerond het (15-19.)
Met vars manne op die veld het die tuisspan se tempo verander en die senter Cole du Toit het in die hoek gedruk. Die plaasvervanger-losskakel, Morgen Wentzel, het uit die hoek geslaag (22-19).
Daarna is die krane oopgedraai en Du Toit het sy tweede drie in die hoek gedruk. Wentzel het verdoel (29-19) om sy span aan die stuur van sake te plaas. Minute later het hy met ‘n allemintige strafskop (32-19) geslaag.
Die agtsteman, Jeraldo Willemse, het die sout verder in die wonde van Pioneers gevryf toe hy langs die pale oor is. Xylon Wanza, Excelsior se plaasvervanger-heelagter, het verdoel om sy span met 39-19 te laat seëvier.