Die eerste span van Excelsior-rugbyklub vier hul oorwinning oor Retreat-rugbyklub.


Die eerste span van Excelsior-rugby het Saterdag (9 Maart) die span van Retreat-rugbyklub met 35-7 in ’n vriendskaplike wedstryd op die Cloetesville-sportterrein oorrompel.

Die tuisspan het goed begin toe die skrumskakel Pieero Siedeman ná slegs twee minute se spel onder die pale oorgeduik het. Die heelagter Lathom Small het met die doelskop geslaag (7-0).

Nadat Excelsior vir onkant­spel gestraf is, het Retreat ’n verdoelde drie langs die pale gedruk (7-7). Excelsior het daarna na vyfde rat oorgeskakel en die besoe­kers moes weens vinnige spel behoorlik rondstaan. Die Stellenbos­sers se voor- en agter­spelers het die bal goed han­teer.

Die blitsige vleuel Marchuis Claasen het ’n pragtige drie gedruk nadat hy met sy dartel­lopies verskeie verdedigers na lug laat gryp het. Small het weer met die doelskop geslaag en die halftydtelling was 14-7.

In die kleedkamer het die Excelsior-afrigters ’n paar slim veranderings aangebring, wat sommer met die afskop dadelik vrugte afgewerp het. Die losskakelrol is oorgeneem deur die talentvolle Emile Baron en die vorige generaal, Isol Titus, het ’n pragtige drie onder die pale gedruk. Morgan Wentzel het die telling 21-7 gemaak.

Ná skitterende samespel deur die Stellenbossers het Claasen weer in die hoek gedruk en Wentzel het met die doelskop geslaag (28-7).

Dit het toe meer soos eenrigtingverkeer begin lyk toe Wentzel byna dwarsdeur die hele Retreat-span hardloop om onder die pale te druk. Hy het self die drie verdoel om die eindtelling 35-7 te maak en sy span die oorwinning te besorg.

Siedeman en Claasen is as die spelers van die wedstryd aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.