Die Excelsior-rugbyklub het Saterdag in sy laaste wedstryd vanjaar teen Fisantekraal gestruikel.
Die tuisspan, Fisantekraal, het soos ’n koeël uit ’n geweer begin en Excelsior moes keer vir al wat hy werd was. Excelsior se talentvolle Morgan Wentzel het geslaag met ’n strafskop.
Die tuisspan het hierna vinnig drie verdoelde drieë ingeryg en die losskakel het ook met ’n strafskop geslaag oor om telling 22-3 te maak.
Die afrigter se harde woorde tydens lemoentyd het vrugte afgewerp en Fisantekraal is met ’n slap riem gevang toe Excelsior sy eerstekeusespelers opgestuur het.
Excelsior se senter, Marlin Present, het kort ná halftyd onder die pale oorgeduik, wat Wentzel verdoel (22-10) het. Minute later het die vlugvoetige losskakel Laythom Small ook onder die pale gaan druk en Wentzel het weer verdoel (22-17). Dissipline het Fisantekraal in die steek gelaat en Wentzel het langs die pale oorgeduik en sy eie drie verdoel om Excelsior te laat voorloop (24-22).
Die skeidsregter maak daarna ’n fout deur Excelsior te straf, maar laat Fisantekraal toe om twee keer vinnige tikskoppies te maak wat Fisantekraal ’n verdoelde drie op ’n skinkbord gee, met die eindtelling 29-22 vir Fisantekraal.