Excelsior versnel amper in stryd teen Young Stars

Die span van Excelsior-rugbyklub het Saterdag (10 Februarie) op die Cloetesville-sportterrein byna die vlerke van die Young Stars-rugbyklub geknip.

Morgan Wentzel van Excelsior-rugbyklub korrel ’n strafdoel oor die pale in sy span se vriendskaplike wedstryd teen Young Stars.

Credit: SYSTEM

Die span van Excelsior-rugbyklub het Saterdag (10 Februarie) op die Cloetesville-sportterrein byna die vlerke van die Young Stars-rugbyklub geknip.

Die besoekers se sterbelaaide span moes omtrent walgooi om die begeesterde tuisspan voor sy skare te keer, en het die vriendskaplike wedstryd net-net met 6-7 gewen.

Dit was ’n klipharde wedstryd waarin geen genade betoon is nie. Young Stars moes byna 30 minute wag om sy eerste punte danksy ’n verdoelde drie aan te teken (0-7).

Dit blyk rotsvaste verdediging is vanjaar Excelsior se wagwoord, maar verkeerde besluite het verhoed dat die Stellenbossers voor rustyd punte aangeteken het.

Gedurende lemoentyd het die Excelsior-hoofafrigter, Sedick Cornelson, soos in die span se stryd teen Strand United die vorige week, kwaai woorde vir sy spelers gehad. Dit het byna dieselfde uitwerking op die manne gehad, want van die afskop van die tweede helfte het die tuisspan beheer van die wedstryd geneem.

Young Stars het met ’n knaende aanval fouteer en die belowende Excelsior-senter, Morgan Wentzel, het met ’n 40-m-strafskop teen die wind geslaag (3-7).

Die Stellenbossers het daarna aanval ná aanval afgestuur met die bal wat blitsig deur die hande van die voor- en agterspelers beweeg het. Die Young Stars is onkant betrap en nog ’n strafdoel is aan Excelsior toegeken. Wentzel het weer geen fout gemaak nie en sy suksesvolle skop het die telling 6-7 – die eindtelling – gemaak.

Die afrigterskorps van Excelsior en die klubbestuur het hul dank aan Young Stars vir ’n wedstryd wat in goeie gees en sportmanskap gespeel is, uitgespreek.

  • Excelsior speel hierdie naweek (Saterdag 17 Februarie) teen die Silvertree-rugbyklub in Athlone. Die eerstespanafskop is om 16:00.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.