Fabriek se ‘stank’ kwel inwoners van Wemmershoek

Inwoners van Wemmershoek tussen Paarl en Franschhoek sê hulle is keelvol vir die bedrywighede by die Sawmill-vrugteverpakkingsfabriek, waar dié fabriek glo self sy afvalwaterlyn aan die Stellenbosch-munisipaliteit se stormwaterstelsel gekoppel het en


Inwoners van Wemmershoek tussen Paarl en Franschhoek sê hulle is keelvol vir die bedrywighede by die Sawmill-vrugteverpakkingsfabriek, waar dié fabriek glo self sy afvalwaterlyn aan die Stellenbosch-munisipaliteit se stormwaterstelsel gekoppel het en dit nou ’n onaangename reuk in die gebied veroorsaak.

Eikestadnuus het vandeesweek die plek langs die fabriek se heining in Proteastraat besoek. Dit was duidelik dat ’n gat in die straat gegrawe is om [wat inwoners beskryf as] afvalwater by die stormwaterlyn aan die oorkant van die pad uit te kry.

Die koerant verstaan die maatskappy het glo self die koppeling in Desember verlede jaar gemaak. Die teer oor die pad is egter steeds nie vervang nie.

Isaac Davids, die voorsitter van die Wemmershoek-belastingbetalers­vereniging, het met Eikestadnuus se besoek gesê die reuk wat van die “onwettige koppeling” kom, is ondraaglik.

Die Stellenbosch-munisipaliteit onttrek in Februarie verlede jaar rioolafval by die fabriek.

“Dit is ’n riool-tipe reuk wat veral laat smiddae saam met die wind hier deur die woongebied beweeg. Ons het ook nooit ’n probleem met so baie vlieë gehad nie en skielik, nadat daardie koppeling gemaak is, is hulle ’n probleem. Soos jy kan sien, is die pyp duidelik nie eens ordentlik aangelê nie. Baie afvalwater gaar net daar op en vrot. Hoe kan enige sakeonderneming dit aan inwoners wil doen?” vra hy.

Eikestadnuus het intussen ’n brief bekom wat in November 2021 deur die Stellenbosch-munisipaliteit se hoof-tegnikus vir ontwikkeling en infrastruktuur aan die munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir beplanning en ekonomiese ontwikkeling gerig is.

In die brief maak die tegnikus kapsie teen die fabriek se aansoek om sy afvalwaterlyn aan die Wemmershoek-afvalwater­suiweringsaanleg te koppel.

“Die Wemmershoek-afvalwatersuiweringsaanleg het nie die vermoë om enige nuwe ontwikkelings te hanteer nie. Die ontwikkeling kan dus nie in hierdie stadium aan die afvalwatersuiweringsaanleg gekoppel word nie,” lui die brief.

Die tegnikus sê ook die gebruik van ’n septiese tenk, wat dan deur die munisipaliteit se riooldienste onttrek moet word, word ook nie aanbeveel nie.

Eikestadnuus verstaan dat die fabriek in daardie stadium van ’n septiese tenk gebruik gemaak het, wat deur die munisipaliteit onttrek is.

“Die bestaande septiese tenk en weg-droog-stelsel by die ontwikkeling moet deur ’n meer omgewingsvriendelike proses vervang word,” skryf die tegnikus.

’n Tegnikus by die Stellenbosch-munisipaliteit het in November 2021 kapsie gemaak teen die fabriek se aansoek om sy afvalwaterlyn aan die Wemmershoek-afvalwatersuiweringsaanleg te koppel.

Volgens Davids is dit hierdie beslissing deur die munisipaliteit wat daartoe gelei het dat die fabriek toe “self ’n manier gevind het om van hul afvalwater ontslae te raak”.

Eikestadnuus het by verdere ondersoek bevind dat die Stellenbosch-munisipaliteit nog in Februarie verlede jaar afvalwater by die fabriek onttrek het, ten spyte van die tegnikus se aanbevelings dat rioolafval nie daar onttrek moet word nie.

“Dis onaanvaarbaar. Dit vrot tot in ons huise. Hoe is só iets goedgekeur wetende dit sou newe-effekte hê? Dit kan tot siektes lei. Hier woon mense, nie varke nie,” het ’n ontstoke inwoner in Februarie verlede jaar op sosiale media geuiter.

Volgens Davids is kommunikasie al verskeie kere oor die gemeenskap se ongelukkigheid aan die fabriek gerig.

Hy sê die fabriek het ook op ’n vergadering belowe om die probleem oor die stank op te los, maar inwoners moet vandag nog steeds met die reuk saamleef.

Die fabriek kon nie vir kommentaar bereik word toe Eikestadnuus telefonies na een van die bestuurslede uitgereik het nie.

Die Stellenbosch-munisipaliteit het intussen by navraag aan Eikestadnuus gesê “die ontwikkeling is toegelaat om op hul eie onkoste ’n waterpyp aan ’n bestaande munisipale waterpyp te verbind”.

“Geen toestemming is egter verleen om aan enige munisipale afvalwaterpyp of stormwaterkanaal te verbind nie. Die munisipaliteit is bewus gemaak van hierdie beweerde voorval en het reeds ondersoek begin instel,” het Stuart Grobbelaar, die munisipale woordvoerder,gesê.

Grobbelaar sê voorts die munisipaliteit dra ook kennis van ’n klagte wat aan die einde van 2023 deur die Wemmershoek-gemeenskap en sy belastingbetalers­vereniging ingedien is.

“Ons omgewingspanne was Maandag 22 Januarie op die toneel om ondersoek in te stel na gerugte van besoedeling en sal toepaslike stappe doen indien waterbesoedeling hier plaasvind. Indien dit bevind word dat enige onwettige aktiwiteit plaasgevind het, sal strafmaatreëls ingevolge wetgewing ingestel word,” het Grobbelaar gesê.

“Ons beoog om die ondersoek vandeesweek af te handel en met die ontwikkelaar te vergader.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.