Nadat sy jare lank Afrikaans en lees deur haar loopbaan bevorder het, het Chareldine van der Merwe besluit om haar eerste kinderboek by die biblioteek van Afrikaanse leesstof te voeg.
Van der Merwe het Saterdag (19 Oktober) amptelik haar kinderboek Huisies vir muisies op die plaas Bethlehem saam met familie, vriende en kollegas bekendgestel. Die geleentheid is deur Rene Arendse gelei.
“Ja, ek het gedroom oor hierdie dag, maar ek het nie geglo dit sou gebeur nie,” sê Van der Merwe, ’n projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans.
Die idee vir Huisies vir muisies het gekom toe Van der Merwe saam met haar susterskinders Xavier (9) en Kendrick Kordom (6) in die veld in Pniël tydens die grendeltyd gestap het. Bring veldmuise ook geld soos die tandmuis? wou die twee by hul ousus weet nadat ’n veldmuis oor hul wandelpad gehardloop het.
Die saadjie is toe geplant.
Eers het Van der Merwe haar idee in ’n boekie geskryf, maar die boekie het weggeraak. Sy het gedink dit is die einde van dié verhaal, maar sedert 2020 het die veldmuisies by haar gebly.
“Vanjaar by die Adam Small-fees vra Marlene [Malan] wanneer ek ’n boek gaan skryf. Ek vertel haar toe my muise-verhaal en sy sê ek moet huis toe gaan en die storie neerskryf en dan vir haar stuur.”
’n Maand later, terwyl sy staan en sop maak, kom die muise se storie terug na Van der Merwe en uiteindelik doen sy moeite om dit vas te vang – sommer as ’n stemnota op haar selfoon. Haar man, Edward, benadruk sy moet die storie vir Malan stuur en die res is geskiedenis.
Danksy ondersteuning, moed ingepraat en ’n geskuur en geskaaf aan die storie het Malan Huisies vir muisies deur haar onderneming, Turksvy Publikasies, laat uitgee. Ronell Lareman het die illustrasies gedoen.
Vir hul aandeel as inspirasie vir die verhaal is die hoofkarakters in die boek na Xavier en Kendrick vernoem. Saterdag het dié twee gesê hulle is opgewonde en meen dit is ’n groot eer om as inspirasie vir die twee seuntjies in die boek te dien. Kendrick het egter gebieg hy is steeds bang vir die veldmuise wanneer hy gaan stap.
Familie was ’n groot inspirasie vir die verhaal en benewens die twee seuns se aandeel het Van der Merwe ook haar kinders se ervaring met die tandmuis ingedagte gehou. Haar eie kinderdae was ook ’n bron waarvan sy gebruik gemaak het.
Huisies vir muisies was egter nie Van der Merwe se eerste skryf-probeerslag nie. Sy het voorheen haar gedigte en verhale ingedien vir publikasie, maar ná vele verwerpings besluit skryf is haar dalk nie beskore nie.
Nou besef sy egter die nee’s was eintlik net voorbereiding vir die ware Jakob.
Van der Merwe meen skrywers is eerstens lesers. Haar liefde vir lees is deur haar ouers, grootouers en die res van haar familie aangewakker. Haar ma het haar gereeld na die Idasvallei-biblioteek geneem en haar familielede was bobaasstorievertellers.
Sy hoop haar boek sal ook die liefde vir lees by kinders aanwakker soos dit eens vir haar was. Lesers hoef ook nie lank te wag vir die volgende verhaal nie, want Van der Merwe is reeds besig om die tweede boek in die reeks oor die muise te skryf.