Ná drie jaar as deel van die Stellenbosch-munisipaliteit se dream team het Jeremy Fasser die tuig as burgemeester by Gesie van Deventer oorgeneem.
Fasser, wat die afgelope drie jaar as onderburgemeester van die Eikestad gedien het, is Vrydag (29 November) amptelik as uitvoerende burgemeester ingehuldig. Fasser is by die spesiale raadsvergadering wat in die Stellenbosch-stadsaal gehou is, as die enigste kandidaat vir die pos benoem.
“Ons respekteer die getalle aan daardie kant van die saal,” het die ANC skertsend oor die DA se meerderheid gesê.
Afskeid is ook geneem van die voormalige burgemeester, hoewel van Deventer nou as DA-partyverteenwoordiger sal dien.
Van Deventer se laaste amptelike aankondiging as eerste burger was dat die Stellenbosch-munisipaliteit sy vyfde agtereenvolgende skoon oudit van die ouditeur-generaal van Suid-Afrika ontvang het.
Sy het al die betrokke departemente en munisipale werkers vir hul bydrae tot dié prestasie bedank.
Van Deventer het by die geleentheid al die werkers van die munisipaliteit vir hul bydrae tydens haar agt jaar lange termyn bedank. Sy het Fasser bedank vir sy bydrae en sê hul gedeelde visie as “dream team” en goeie verhouding het stabiliteit opgelewer.
Sy het ook die opposisie vir hul bydrae bedank.
Die opposisie het oorwegend goeie wense vir die uitgaande burgemeester gehad. Monwabisi Rataza van die ANC het vertel van Van Deventer se leierskap en die ouerlike aanslag waarmee sy regeer het. Hy het vertel hoe hy “met ’n seer hart” na haar kantoor is, omdat sy ouers nie ’n huis gehad het nie. Sy het hulp aangebied en Rataza kon vir sy ouers ’n huis koop.
Die PA se John Andrews het Van Deventer aangespoor om haar tyd saam met haar gesin ten volle te geniet.
Die raadslede van die VF Plus, ACDP, GOOD en die PDM het goeie wense gedeel, maar sommige kon nie help om ’n laaste stekie in te kry nie. Die EFF-raadslid Zola Ndalasi het aangevoer Van Deventer het niks vir Khayamandi of sy inwoners gedoen nie.
“Aangesien ek nie ’n leuenaar is nie, sal ek liewer niks sê nie,” het Ndalasi gesê na hy deur die speaker, Quintin Smit, gewaarsku is.
Fasser het gesê as ’n Cloetesville-kind is hy trots om “al die inwoners van die munisipaliteit te dien”.
Hy meen die standaard wat deur sy voorganger gestel is, is hoog en hy sal die uitdagings van die munisipale gebied deur vennootskap met rolspelers aanpak.
- Onderburgemeester, asook beplanning, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en toerisme: Mynard Slabbert
- Menslike nedersettings: Rozette du Toit
- Korporatiewe dienste: Lwando Nkamisa
- Infrastruktuur: Reginald Pheiffer
- Beskermingsdienste: James Williams
- Gemeenskapsdienste: Xolile Kalipa
- Finansies: JC Anthony
- Sport, jeug en kultuur: Tamryn Kumm
- Parke en oop ruimtes: Ndipiwe Olayi
- Landelike en omgewingsbestuur: Charles Manuel.