Hierdie komende naweek vind ’n viering van Afrikaans en die verskeie stemme wat die taal so besonder maak, in Pniël plaas.
Die jaarlikse Adam Small-fees begin amptelik môre (Vrydag 21 Februarie) en duur tot Sondag (23 Februarie). Dit word aangebied deur die Pniël Erfenis- en Kultuur-trust in samewerking met die ATKV en beloof om ’n besonderse bymekaarkoms te wees.
Vanjaar se tema is “Kô lat ons dans”. Hulde word hierdie naweek ook aan die literêre reus wyle Breyten Breytenbach gebring. Hy is in November oorlede.
Vrydag se verrigtinge begin om 08:30 met ’n koppie boeretroos by die Pniël-museum. Van daar is die oggend propvol, met sessies waarby Ena Jansen, Max Havelaar, die plaaslike Pniël-skrywers Theresa Papenfus en Mia Arderne en Malikah Hamza betrokke is. Om 11:00 sal die digter Diana Ferrus en die Mengelmoes Digters hulde aan Breytenbach bring.
Hierna volg een van die dag se hoogtepunte – die Stigting vir die Bevordering van Afrikaans op Internasionale Moedertaaldag stel die Rielritme Musiekboek, nagevors en saamgestel deur Monique Seigels en Zenobia Kloppers, bekend. Frazer Barry voer die onderhoud in die plaaslike kerksaal.
Die wenners van die ATKV se skole-skryfskool sal aangekondig word en die Kylemore-inwoner Chareldine van der Merwe stel haar kinderboeke bekend.
Saterdag begin Afrikaans 100 sy eerste eeufees-bekendstellingsgeleentheid in die kerksaal. Die musiekkunstenaars Riku Latti en Churchill Naude sal optree, met die tema “Jy is genooi”.
Prof. Michael le Cordier sal om 10:00 die SBA Adam Small-gedenklesing lewer.
Willem Fransman jr. volg hierna met sy hulde aan Adam Small met musiek en digkuns, waarna die ATKV-VVA- Ommietafel-gesprek volg met die tema “Hoekom ’n musiekloopbaan in Afrikaans?”. Die paneel bestaan uit Van der Merwe, Barry, Sarah Theron en Jitsvinger.
Johnny Davids praat later die middag oor sy boek Boytjie, asook Mia Ardene wat oor haar boek A Thousand Eyes on You gedagtes kom uitruil. Darryl Earl David se Karoozing: An Ode to the Open Road, ’n versameling foto’s van sy reise deur die Karoo, sluit die dag se program af.
Saterdagaand word ’n musiekprogram, Kô lat ons dans, aangebied, met Barry, Brandon October, Selby Williams en die Crescendo Orkes. Kaartjies kos R50.
Sondag sluit die fees by die plaaslike kerk af. ’n Feesdiens word om 09:00 gehou. Die fees sluit af met ’n praatjie deur prof. Ronnie Donaldson getiteld “Genetrifikasie in Pniël en dorpies”.
- Alle die sessies is gratis, benewens die konsert. Besoek www.adamsmallfees.co.za vir meer besonderhede en die volle program.