Trekklavierdag en Afrikaans 100 vier saam fees.
Wêreld-trekklavierdag word vanjaar op die vooraand van die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike taal gevier met die Trekklavier is GROOT | Afrikaans 100- geleentheid. ‘n Feestelike kulturele samekoms vir oud en jonk word op Dinsdag 6 Mei om 19:00 in die Endlersaal in Stellenbosch aangebied.
Kom ervaar ‘n onvergeetlike musiekbelewenis van die akkordeon met koor, ensemble en konsertina.
Vooraanstaande trekklavierspelers, top-skoolkore, konsertinameesters, Kersfeeskore, volkspele en ander musiekgroepe gaan groot met betowerende klanke in ‘n verskeidenheid genres van klassiek tot volksmusiek.
Daar sal ook ‘n mini-expo van alles-akkordeon wees.
Onder die musiekmakers wat hul talente ten toon sal stel, is Louis Verwey, Leon Oosthuizen, André van Vuuren, Loren Ehlers, Monika Stuchlik en Corinne Sanderson (almal op die akkordeon), Barney van Dyk (konsertina), Dries en Esmé Neethling (melodika, konsertina en akkordeon), Box Bros (akkordeon-kwintet), MJ Brooks (akkordeon) en Willem Luitingh (akkordeon en orrel).
Plaaslike skole se kore sal ook hul sangtalent vir die geleentheid leen.
Onder die skoolkore wat optree is die Laerskool Stellenbosch en perkussie-orkes, Kylemore Sekondêr, die Hoër Meisieskool Bloemhof se a capella-groep, Volkspele Tygerberglaer, die Pieter Langeveldt Primêr-skoolkoor, Weber Gedenk Primêr, Cloetesville Primêr, Idasvallei Primêr koor en die Star of Gladtidings Kersfeeskoor.
Die geleentheid word deur die Suid-Afrikaanse Vryrietinstrumentvereniging (Safra) aangebied.
• Kry nou jou kaartjies by Webtickets en besoek Safra se Facebookblad vir nog inligting.


