Feestyd bring vergiftigingsgevare

Met die feestyd so te sê hier, waarsku dokters daar is verskeie vergiftigingsgevare om van bewus te wees, veral met betrekking tot kinders.


Met die feestyd so te sê hier, waarsku dokters daar is verskeie vergiftigingsgevare om van bewus te wees, veral met betrekking tot kinders.

Die Rooikruis-kinderhospitaal en die Tygerberg-hospitaal se gifinligtingsentrums is die tuiste van die nasionale gifinligtingshulplyn, wat sedert 2015 in werking is.

Die hulplyn werk deurlopend, en bied onmiddellike ondersteuning en leiding om ouers, versorgers en gesondheidswerkers te help om vergiftigingssimptome te herken en hoe om noodgevalle te behandel. Dit word deur 14 klinici en aptekers bedryf, en neem tot 13 600 oproepe per jaar en meer as 1 100 oproepe per maand.

Dr. Cindy Stephen, direkteur van die Gifinligtingsentrum by die Rooikruis-kinderhospitaal, deel waarom vergiftigings tydens die feestyd toeneem: “In vakansietyd, buite ons normale roetine, moet ons ekstra sorg neem om te verseker dat medisyne en chemikalieë veilig weg van kinders gestoor word. Die warmer somermaande beteken ook dat meer slange, spinnekoppe en skerpioene aktief is en die insidensie van gif inspuitings merkbaar toeneem.”

Altesaam het Rooikruis- en Tygerberg-hospitale meer as 2 500 vergiftigingsgevalle in Desember 2022 en Januarie 2023 gesien.

Carine Marks, direkteur van die Gifinligtingsentrum by Tygerberg-hospitaal, moedig ouers aan om tydens die vakansieseisoen bewus te wees. “Bly waaksaam hierdie feestyd! Met kinders se hoër risiko, is vergiftigingsgevare – medikasie-ongelukke, plaagdoder-blootstelling en inseksteke – boaan die lys.”

Medikasie-oordosis, plaagdoders of huishoudelike-produk-blootstelling sowel as byte of steke is die hoofredes vir gesondheidswerkers of lede van die publiek om die gifinligtingshulplyn te bel.

Om jou gesin hierdie feestyd te beskerm, neem kennis van hierdie waardevolle lewensreddende wenke:

  • Stoor medisyne of giftige stowwe altyd veilig op buite bereik van kinders.
  • Om uit jou roetine wees kan jou meer vergeetagtig maak.
  • Wanneer jy reis, moenie medisyne in reis- of inkopiesakke hou waar dit maklik toeganklik is vir nuuskierige kinders nie.
  • Maak seker dat alle medisyne onmiddellik na gebruik veilig weggebêre word.
  • Wees versigtig wanneer jy ander mense se huise besoek waar medisyne en giftige stowwe dalk nie veilig weggesluit is nie.
  • Hou los batterye en battery-aangedrewe toestelle weg van kinders en plak die batterykompartement met kleeflint vas – ingeslukte batterye kan ernstige skade aan kinders veroorsaak.
  • Warm somerdae beteken almal is dorstig. Wees versigtig dat paraffien of ander giftige vloeistowwe soos metielgees of verdunners nie in sap- of waterbottels oorgegooi word, waar dit soos water of sap kan lyk nie.
  • As rommel tydens die vakansieseisoen ophoop, mag daar meer rotte en muise wees. Gebruik slegs plaagdoders wat by ’n winkel gekoop is en behoorlik geëtiketteer is. Moenie swart korrels of wit vloeistowwe in ongemerkte pakkies of bottels koop nie. Hierdie moet nie in die huis gebruik word nie en kan baie gevaarlik vir mense wees.
  • In die somertyd is slange en skerpioene buite en bedrywig. Dra altyd toe skoene wanneer jy stap en gebruik ’n flitslig wanneer jy snags buite loop. In die geval van ’n slangbyt, hou die slagoffer kalm en stil en vervoer hulle summier na die naaste hospitaal.
  • Swem in die see kan lei tot steke van bloublasies. Verwyder enige tentakels versigtig, vermy om die vel te vryf, en spoel af met seewater – nie vars water nie. Die onderdompeling van die steekplek in warm water vir ten minste 20 minute kan help om pyn te verlig, waarna pynstillers gebruik kan word om ongemak te verlig. Dit word nie aanbeveel om asyn, vleisvermalser, metielgees of enige ander stowwe op die steekplek te vryf nie.

Onthou om die Gifinligtingshulplyn nommer (0861 555 777) by jou kontaklys te voeg, in geval van vergiftigingsnoodgevalle.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.