Die fyn en sorgvuldige handewerk is te danke aan Maggie Kriek en Eileen Holbrook wat vir sowat 300 tot 400 mussies en serpe gesorg het.Foto: Facebook


Die Franschhoek Lions Ladies het verlede week gespog met en dank gerig aan twee vrywilli­gers wat sowat 300 tot 400 van die mooiste mussies vir kinders in die dorp gebrei het.

Die spesiale dank is betuig aan Maggie Kriek en Eileen Holbrook wat as vrywilligers die projek met hul warm, woelige handewerk ondersteun.

Die klub se voorsitter, Lodine Maske, vertel die klomp mussies en serpe is bestem vir die kinders van die gemeenskap, veral diegene wat by LaMotte Bosbou en die saagmeule in die dorp woon.

“Ons verwelkom enige ander vrywilligers wat oulike breiwerk kan doen vir die Franschhoek Lions Ladies. Ons verskaf die wol en versoek ons vrywilligers om net te brei,” het Maske gesê.

Die Franschhoek Lions Ladies is ’n liefdadigheids­organisasie sonder winsbejag wat die afgelope 20 jaar in hierdie gemeenskap betrokke is.

“Ons bedrywighede behels geldinsamelings, spesiale projekte soos die brei van mussies, medical alert en ’n sopkombuis, om net ’n paar te noem.”

Die mussies sal binnekort versprei word na die res van die gemeenskap se kinders, wat die warm handewerk van die Franschhoek Lions Ladies op hul hoofde in die koue sal waardeer.

. Vir meer inligting of om jou hande besig te hou, bel of WhatsApp Maske by 082 372 2333.

You need to be Logged In to leave a comment.