Fietsbane ‘help nie veel’

Die brief in Eikestadnuus van 18 November 2021 onder die opskrif “Gebrek aan vervoer: siekes sukkel steeds” verwys na twee aspekte, naamlik die gevare van voertuie wat vir stappers en fietsryers te vinnig ry in Merrimanlaan en die gebrek aan’n vervoe


Die brief in Eikestadnuusvan 18 November 2021 onder die opskrif “Gebrek aan vervoer: siekes sukkel steeds” verwys na twee aspekte, naamlik die gevare van voertuie wat vir stappers en fietsryers te vinnig ry in Merrimanlaan en die gebrek aan’n vervoerdiens vir siekes/pasiënte wat die provinsiale hospitaal besoek.

Die burgemeester, in haar antwoord, toon wel simpatie met mense wat nie vervoer insluitend taxi’s kan bekostig nie, maar gee nie aandag aan die groter kwessie om Merrimanlaan te beveilig vir juis stappers en fietsryers nie. Merriman­laan is van bo tot onder ’n belangrike verbindingsaar in ons dorp.

Sedert Novembermaand het ons waargeneem toe die kampus veral sedert Februarie weer vol aan die gang was, hoe gevaarlik Merrimanlaan by tye raak vir fietsryers en voetgangers. (Sien foto.)

Die smal geverfde fietsbane bied geen beskerming vir weerlose fietsryers teen voertuie wat dikwels in hierdie bane ry nie, en die oplossing, naamlik afgesperde fietsbane, is voor die hand liggend.

Stellenbosch-Fietsry het Merrimanlaan se gebreke vir stappers en fietsryers al dikwels onder die aandag van die munisipaliteit se ingenieursdienste gebring. Die probleem is in hoofsaak ’n gebrekkige NMT-begroting. Skaars 2% van die vervoerbegroting in die huidige boekjaar gaan aan NMT-projekte en minder as 1% aan fietsry. Gevolglik kan nie uitvoering gegee word aan die oorhoofse fietsplan se voorstelle vir Merrimanlaan nie.

Die fietsplan stel voor dat Merrimanlaan van Cluverweg tot Adam Tasweg opgeknap word tot ’n klas 2-fietsbaan, dus ’n afgesperde baan aan weerskante van Merrimanlaan.

Dié straat is ’n onmisbare skakel in ’n veiliger fietsnetwerk vir die dorp en veiligheid moet hier aandag kry, veral wanneer die Adam Tas-korridor-projek ’n werklikheid word en mense van daar per voet of per fiets moet pendel. En die burgemeester het juis die Adam Tas-korridor as een van haar prioriteite vir haar nuwe termyn uitgelig. As behuising daar verskaf gaan word, soos beplan, sal Merrimanlaan waarskynlik verleng moet word tot oor die spoorweg, wat ook afgesperde fietsbane noodsaak.

Aktiewe mobiliteit, soos oorsese lande al meer besef, hetsy of dit in die vorm van stap, fietsry of selfs skaatsplanke is, bied vir die armstes onder ons ’n geleentheid om oor die weg te kom sonder die uitgawes wat openbare vervoer meebring. Hier wag ’n uitdaging op die munisipaliteit.


Hugo Truter,

Stellenbosch

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.