Met hul 600 km-fietsry-uitdaging pas agter die rug, het dr. Marietjie Lutz, ‘n dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), en haar span fietsryers hul visier op die uiteindelike eindstreep gestel – om minstens R100 000 vir wetenskapstudente in nood in te samel.
Hulle het reeds R92 000 met hul Wheels of Opportunity (WOOP25)-veldtog ingesamel en daarmee verlede jaar se R75 000 oortref. “Hierdie veldtog het nie net bewustheid oor die finansiële uitdagings geskep waardeur baie van ons studente in die gesig gestaar word nie, maar ook ‘n kragtige belegging in die toekoms van hardwerkende en verdienstelike individue geword. Ons beplan om die GivenGain-platform tot einde April oop te hou.”
Die ryers se lywe herstel dalk nog van die uitmergelende toer, maar Lutz sê die span se toewyding aan die saak het nooit gewankel nie. Haar vier kinders het die volle afstand oor ses dae saam met haar voltooi – selfs die jongste, die 14-jarige Daniël, ‘n gr. 8-leerder aan Paul Roos Gimnasium. “Hy was eers onseker oor watter afstand hy sou kon aflê, maar het uiteindelik die hele ding gedoen,” vertel Lutz.
Sy sê almal wat by die fietstoer betrokke was, het die hele tyd op die einddoel gefokus gebly. “Niemand het ooit gevra ‘hoekom doen ons dit?’ nie; ons het almal net aanhou vorentoe beweeg.”
Lutz sê die ervaring het oor soveel meer gegaan as om net grense te verskuif en ‘n uitdaging te voltooi. “Vir elkeen van die ryers was dit ‘n reis van persoonlike groei. Dit het daaroor gegaan om vir iemand anders terug te ploeg.” Die doelwit om geld vir talentvolle, maar minderbevoorregte studente in te samel, het veral by haar twee oudste seuns, Ben en Jan, aanklank gevind. Albei studeer aan die US.
Net soos in 2024 was die fietstog nie sonder sy uitdagings nie. Lang afstande het hul tol geëis en op dag twee het die groep ‘n veeleisende 125 km getrap en meer as sewe uur in die saal deurgebring. “Ons was almal gedaan,” onthou Lutz.
Die nuuskierige koedoe van verlede jaar het weer eens sy verskyning gemaak, vertel Lutz, en hierdie keer het ‘n energieke eland ook vir ‘n entjie by die groep aangesluit. Gelukkig het haar geskeurde heuplabrum nie probleme veroorsaak nie. “Ek het verbasend genoeg geen probleme ondervind nie. Ek dink dit was omdat ek fisiek beter voorbereid was as voorheen.”
Sy voeg by beter beplanning het dit moontlik gemaak om die groep uit te brei om haar hele gesin en vier bykomende fietsryers in te sluit. Aangevuur deur gesoute aartappels en verdunde Coca-Cola het hulle ongeag die hitte en heuwels deurgedruk om die afstand te voltooi.
Die ondersteuning – finansieel en in die vorm van onderskraging – was oorweldigend, sê sy. Lutz wou aanvanklik weer die geldinsamelingsdoelwit tot R75 000 beperk. Maar, aangemoedig deur haar man om hoër te mik, het sy ‘n teiken van R100 000 gestel.
Die skenkings, wat begin het nog voordat die eerste kilometer afgelê is, het haar laat besef “as ons aan die begin besluit oor die uitkoms, beperk ons onsself en hoe sal die onmoontlike dan waar word?”
Uiteindelik, voeg Lutz by, het sy besluit: “As ons goed wil vaar, moet ons onsself nie beperk nie. En dit geld vir enigiets in die lewe – byvoorbeeld ‘n student wat vir ‘n graad studeer. Ons moenie die uitkoms van so ‘n droom beperk nie.”
Lutz het die drome van baie studente die ses dae met haar saamgedra en ‘n minia-
tuurweergawe van die US se gelukbringer, Pokkel, is aan haar stuurstang vasgemaak as ‘n herinnering aan die doelwit.
• Om by te dra, besoek givengain hier.
