Die Idasvallei-gemeenskapstaproetes (IGS), ’n organisasie sonder winsbejag wat beoog om natuurbewaring in die omgewing aan te moedig, is die begunstigde van tien nuwe bergfietse.
Die fietse is ’n skenking deur Pedal Power Association, Ben Bikes en die Wes-Kaapse regering.
Volgens Eon Hendrickse van die IGS is die doel van die skenking om veilige fietsry in Idasvallei aan te moedig, asook om fietsry as ’n sport in Idasvallei te bemark.
“Met die fietse kan ons meer jongmense motiveer om die natuur as ontspanningsgebiede te gebruik en ook buitemuurse opvoedkundige aktiwiteite ná skool doen,” voeg hy by.
Hy sê die plan is om uiteindelik ’n bergfietsryspan in Idasvallei te begin, aangesien Stellenbosch so te sê as die Mekka van bergfietsry beskou word.
“Ons wil ook mobiliteit in Idasvallei verbeter deur meer mense en kinders aan te moedig om fiets te ry en dit te gebruik as vervoermiddel. Ons sien daarna uit dat Paul Roos, Fairtree en ander fietswinkels en liefhebbers deel word van hierdie projek,” voeg hy by.
“As mense saam met ons wil trap of wil deel raak van ons aktiwiteite, kan hulle my per e-pos kontak by eon@idasvalleycommunity.org of net ’n WhatsApp stuur na 074 675 8347.