Die Idasvallei-fietsryspan wat aan die Ride4Renoster­veld-bergfiets- uitdaging deelgeneem het. Van links is Graeme Jumat, Dante Theunissen, Tyler Visagie, Eon Hendrikse, Axavier Meyer en Charl Loggenberg.

Credit: SYSTEM

Fietsry is vinnig besig om ’n opwindende en leersame tydverdryf onder jeugdiges in Idasvallei te word – dit danksy ’n program wat deur die Idasvallei-gemeenskapstaproetes van stapel gestuur is.

Danksy dié program het ses kranige plaaslike fietsryers Sondag (5 November) aan die Ride4Renosterveld-bergfietsry-uitdaging deelgeneem.

Die fietsryprogram is die geesteskind van Eon Hendrikse, een van die direkteure van die Idasvallei-gemeenskapstaproetes, en is ná ’n skenking van 10 fietse deur die Bicycle Empowerment Network (BEN) in Julie begin. Die skenking het ten doel om fietsry – veral veilige fietsry – in die gemeenskap te bevorder asook om dit as ’n ontspanningsaktiwiteit aan die jongspan voor te stel.

“Sedert die skenking daag kinders tussen 13 en 18 jaar op om fiets te ry. Só het ons besluit om Saddle Saturdayste begin om meer kinders op fietse te kry,” vertel Hendrikse.

Nadat kinders gereeld opgedaag het, het Hendrikse besluit om dié groep gereeld deur die staproete op twee wiele te neem. Só is die Idasvallei-fietsryspan gebore.

Danksy ’n skenking van fietsryklere deur Specialized Stellenbosch lyk die fietsryers ook soos ’n ware span.

Die groot aanvraag uit die gemeenskap het gelei tot ’n naskoolse program wat deur die meer ervare fietsryers van die span aangebied word.

“Die kinders is gretig om te leer en ons gebruik dit ook as ’n kans om hulle meer oor die natuur te leer,” sê Hendrikse.

Die Idasvallei-fietsryspan, wat meestal op bergfietsry konsentreer, het – danksy ’n borgskap – in September aan die Fedhealth MTB Challenge deelgeneem.

Die afgelope naweek het hulle – ook danksy ’n borgskap; deur Jacques Steyn van Jordan-wyne en die Bottelary Hills Renosterveld Conservancy – aan die Ride4Renosterveld-bergfietsry-uitdaging deelgeneem. Raino Bolz, die eienaar van Adventure Shop Stellenbosch, het ook bergfietse vir die span geleen.

“Ons is dankbaar vir die ondersteuning en het die uitdaging terdeë geniet. Bergfietsry is ’n duur sport, maar ons wil graag die sportsoort onder die jeug van ons gemeenskap laat groei,” sê Hendrikse.

“Daarom doen ek ’n beroep op die bergfietsry-gemeenskap om ons te ondersteun deur hul kennis en vaardighede met ons te deel, hetsy dit is hoe om die fietse in stand te hou of te herstel, of hoe om verskillende terreine baas te raak. Ons is honger om te leer, maar kort die hulp van die fietsry-gemeenskap in Stellenbosch.”

  • Kontak Hendrikse per e-pos by eon@idasvalleycommunity.org om betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.